top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Wees 'n betroubare vriend

Jare gelede in Amerika was die slawekwessie ‘n groot vraagstuk en punt van debat. Verskillende politieke kampe het mekaar heerlik bygekom en uitmekaar getrek oor die “reg” en “verkeerd” van slawerny. Benjamin Rush was een so ‘n man wat hewig gekant was teen die koop en verkoop van slawe. Hy het sy longe uitgepraat daarteen en in baie koeante daaroor geskryf. Hy het selfs kerke gevra om van hulle kansels te preek teen slawerny omdat alle mense na die beeld van God geskape is. Ongelukkig vir Rush was dit welbekend dat hy die eienaar van ‘n slaaf was. Robert E.Lee was ‘n ander bekende politieke figuur van daardie tyd wat dieselfde boodskap verkondig het: stop slawerny! Hy het al die slawe wat hy van sy skoonpa geërf het vrygelaat en selfs so ver gegaan om hulle eers ‘n ordentlike opleiding te gee voordat hy hulle laat gaan het.


Watter een van die twee sal jy vertrou? Die een praat teen slawerny, maar het ‘n slaaf. Die ander een praat teen slawerny, het al sy slawe opgelei en hulle toe vrygelaat. Ja, swak vraag, kan jy dalk sê, maar ek is seker dat jy die beginsel nou beter verstaan.


'n Betroubare vriend is ook iemand wat nie agter jou rug stories oor jou sal versprei nie. Nee, jy kan maar weet jou menswees en eerlikheid oor jouself is veilig by ‘n vriend. Jy gaan nie iewers ‘n verrassing kry en van iemand anders een of ander verdraaide storie oor jouself hoor nie. Jy hoef ook nie bekommerd te wees dat jou diepste geheime die Sondagkoerant se agterblad gaan haal nie. By ‘n ware vriend is dit veilig. Spreuke 11: 13 beskryf dit baie reguit:


Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; ‘n betroubare mens bewaar ‘n geheim.


‘n Storie kan groot skade aanrig al is dit die waarheid. ‘n Betroubare vriend is iemand met wie jy jou diepste geheime kan deel sonder om bekommerd te wees dat die waarhede iewers in verkeerde hande gaan beland en skade gaan aanrig. Jy kan dus met die grootste vrymoedigheid in die lig kom by ‘n vriend met dinge wat jou pla, of al lankal hinder. So, kan jy vrykom en lewe in oorvloed geniet. Iemand onbetroubaar sal sulke waarhede teen jou gebruik en in daardie tyd maak asof dit net ‘n oorvertel van die waarheid was – dit was mos doodonskuldig bedoel en die volle waarheid!


Daarom, wees en leef as 'n betroubare vriend!

6 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page