“Francois se pa maak dan so” en: “Gerda se ma sal dit nooit doen nie,” is dinge wat elke ouer sekerlik al van hulle kinders gehoor het. Dis mos gewoonlik die reaksie wat jy kry wanneer jy grense stel in jou huis. Dis dan wat jy jou hakke moet inskop en sterk staan.
Wanneer mens na ouerhuise kyk, lyk dit absoluut of baie ouers ’n bang generasie geword het; bang om duidelike grense te stel waarbinne hulle kinders vryelik en veilig kan beweeg. Wat kinders (en sommige ouers) nie weet nie, is dat kinders eintlik na grense smag en dit juis wil hê omdat dit hulle veilig laat voel en wys Pa en Ma gee om.
Natuurlik gaan jou kinders rebelleer en jou grense toets. Dit sou abnormaal wees as jou kinders altyd ja en amen sê op elke grens wat jy daarstel. Natuurlik kan hulle sê hoe hulle daaroor voel - negatief of positief. Diep binne-in weet hulle egter Pa en Ma gee om. Moet jy net nie aan ’t bewe gaan en toegee nie. Dis wanneer manipulasie begin en dit is baie moeilik om uit daardie spinnerak van manipulasie te kom.
Ek en my vrou het gereeld gehoor: “Hoekom Pa?” Of "Hoekom Ma?" My antwoord was konsekwent eenvoudig: “My kind, omdat ek genoeg vir jou omgee en jou lief genoeg het om die grens daar te stel.” Dalk is daar nie onmiddellike begrip en aanvaarding nie, maar vir eers het jou kind genoeg om oor na te dink.
Dit is ’n baie gesonde beginsel om met jou kinders oor grense te onderhandel. Pas op om nooit te outokraties en hard te wees nie. Skep byvoorbeeld sekere denkbeeldige situasies en vra hulle wat die gevolg in so ’n situasie moet wees. Dis lewensbelangrik om te onthou dat kinders grense baie makliker aanvaar wanneer daar ’n goeie verhouding tussen ouer en kind is. Dus, werk eers aan ’n verhouding met jou kind voordat jy erge grense probeer stel.
Spreuke 19: 18 skryf so mooi:
Behandel jou seun streng, dan is daar hoop, maar moet jou nie te buite gaan en hom doodmaak nie.
Komentarze