top of page
  • Writer's pictureHendrik Nel

Wat beteken vergifnis regtig?

In Jesaja 1:18 se die Here vir die volk Israel:


“…al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu, al was purperrooi, julle sal wit word soos wol”.


Sondes wat gedoen is, is in die verlede. Dit is verby, dis reeds gedoen. Dit het gebeur, dit is daar in die verlede. Al manier om ons sondes weg te neem, is om die verlede te verander. Ek en jy kan nie die verlede verander nie. As ons sondig, my posisie misbruik en iemand te na kom, onregverdig veroordeel, slegsê, is dit gedoen en is dit daar, in die verlede. Al vergewe iemand my vir dit wat ek aan hom of haar gedoen het, verander dit nie die verlede nie. Maar gelukkig kan God die verlede verander! Hy het tyd geskep en kan dit ook wegneem.


By die bruilof in Kana doen Jesus Sy eerste wonderwerk. Hy verander water in wyn. Om wyn drinkbaar te maak moet dit verouder. Maar die water wat Jesus in wyn verander, het nie verouder nie. Dit het dus nie ‘n verlede gehad nie. Dit moes ‘n verlede gegee word, verouder, sodat die bruilofsgaste dit kon drink. God skep vir die wyn ‘n verlede, deur ‘n wonderwerk. As God ‘n verlede kon gee waar daar nie een was nie, dan kan Hy ‘n verlede wegneem waar daar een was. Die Bybel is vol van God se beloftes dat Hy ons sondes sal wegwas, sal wegneem (Efes 1:7, Rom 3:23, Matt 6:14, Hand 3:19). Hy ontken nie dat daar sondes was. Maar Hy verander die verlede en die realiteit van die toekoms. Ons word dus nie net vergewe nie, dit is asof ons nie gesondig het nie.


Deur vergifnis word die onmoontlike die realiteit, die skuldige word onskuldig, die besmette word skoon en suiwer, die verworpe word die geliefde en ons sondes wat skarlakenrooi was, word wit soos sneeu. Ontvang elke dag van God jou veranderde, onskuldige, suiwer en skoon verlede, ‘n verlede so mooi en wit soos sneeu!

7 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page