top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Waar pas goeie werke dan in?

Geen goeie werke kan tot jou redding lei nie. Geen goeie werke kan maak dat jy jouself met God versoen nie. Almal het gesondig en is ver van God. Enige menslike pogings om in die hemel te kom, is futiel en sal nooit werk nie. Jy mors jou tyd.


Het jy al ooit so daaraan gedink: As jou goeie werke jou met God kon versoen en jou in die hemel kry, hoekom moes Jesus dan enigsins aarde toe kom? Hoekom moes Hy dan wreed in jou plek aan 'n kruis sterf? Jy kan dan self versoening met God bewerk. Sy kruisdood was dan mos onnodig? Efesiërs 2: 8 beskryf dit baie mooi:


Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.


Enige pogings van jou kant om redding vir jouself te probeer bewerk, sê die Skrifgedeelte, sal nie werk nie. Jou geloof in Jesus Christus is wat vir jou redding bewerk. God se genade in Jesus Christus is wat vir jou redding bewerk. Pasop om in die slaggat van die skaal-van-goeie-lewe te verval. Dis ‘n toets wat jy nooit gaan deurkom nie. Eers as jy God se genade in Jesus Christus jou eie maak, sal jou hart oorloop van dankbaarheid. Dit is dan wat goeie werke hulle regte plek inneem. Uit dankbaarheid vir jou redding kan jy nie anders as om goeie werke te doen nie. Goeie werke is dus nie om gered te word nie, maar juis as gevolg van jou redding. Efesiërs 2: 10 skryf dit so raak:


Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.


Dus: goeie werke en goeie dade is nie om redding en genade te verdien nie. Nee, vanuit redding en genade wil jy graag goeie werke en dade doen. God se gratis, maar duur genade (dit kos Jesus se lewe) is jou dryfkrag om goed te doen.

12 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page