top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Voorbereiding vir leierskap

Jy ken mos die sisteem: twaalf jaar lank sal jy in die skool wees om daardie matrieksertifikaat te verkry (daar is enkele uitsonderings, maar hulle is baie min). Jy sal ten minste drie jaar studeer vir 'n graad. So kan ek aangaan en aangaan. Dit werk ook so met leierskap: jy groei in dit in. Jy ontwikkel daagliks, weekliks, maandeliks en elke jaar om uiteindelik 'n goeie leier te kan wees.


Baie wil dit "rush'. Baie wil dit wees lank voordat hulle gereed is daarvoor. By vele is die drang na erkenning deur die middeweg van leierskap net te sterk. Hulle aspireer, druk en veg in plaas van nou hulself te groei en te verbeter.


Moses bly vir my vandag nog een van die verstommendste leiers ooit. Hy het 'n ernstige spraakgebrek en God kies hom om met die Farao te gaan onderhandel/praat om uiteindelik die volk uit Egipte te lei. Hoe het God vir Moses voorberei? Moses is deur 'n proses waarin hy onder andere sien hoe sy volk mishandel word, hy vermoor 'n Egiptenaar en vlug en uiteindelik is hy 40 jaar in 'n woestyn. Alles was voorbereiding vir leierskap! Ja, selfs die woestyn leer jou van volharding en deurdruk en aanhou en om nederig te wees. Moet dit nie probeer systap nie. Plaas jou lewe net volledig in God se hand. Hy weet wat Hy doen. Sy tydsberekening vir jou leierskap is perfek.


Vra vir Josef? Ek weet hy sal saam stem. Dit het hom duur gekos om die leier te wees wat hy uiteindelik geword het: aangerand deur sy broers, in 'n droë put gegooi, verkoop, weer verkoop, 'n vreemde land, onskuldig in 'n tronk....... Praat van grondpad of 'n woestyn! Jy weet waar het hy geëindig. Hy het dit volledig in God se hande gelaat en nie enige aspirasies of selfsugtige begeertes probeer forseer nie. Nee, hy het God vertrou en 'n top leier geword.


Betaal jy tans die "skoolgeld" van leierskap? Beleef jy die grondpad en woestyn? Of is jy besig om die regte knoppies te probeer druk om God aan te help met wat volgens jou te stadig vorder? Jy gaan jou vingers verbrand, of dalk het jy al.


Raak rustig, God is besig met jou. Wees nederig, volkome oorgegee aan Hom en hou aan groei en ontwikkel daar waar jy is. God weet wat Hy doen. Vra vir Moses en Josef.


11 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page