top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Titel-gedrewe?

As jy jou enigsins in 'n leierskapposisie bevind, het jy 'n reuse verantwoordelikheid om te besef jou organisasie se sukses hang nie net van jou rol of titel af nie. Titel-bewustheid gaan nie jou organisasie vorentoe vat nie. Die mense SAAM met jou in jou organisasie - julle gaan die organisasie vorentoe vat.


Met 'n titel is daar geen fout nie. Dit gebeur in die lewe. Baie mense het titels, posisies en bevind hulle in belangrike leierskaprolle. Dis hoe jy daarna kyk, dit hanteer en leef wat uiteindelik die verskil maak.


So baie leiers vandag is diep bewus van hulle titel. O, hulle lewe lank smag hulle na die titel. Hulle het gedroom van die titel. Sommiges sou self op ander trap om "bo" uit te kom en nou is jy bo almal. Jy het die titel en jy is bo. Al die res is onder jou. Jou narsistiese droom het waar geword as jy dit so benader en so daaroor dink.


As jy net in die geringste mate so dink, of so aspireer het ek vir jou baie slegte nuus. Daardie gesindheid is sigbaar in jou dade en optrede. Dit gebeur onwillekeurig. Jou hart wys in jou dade. Dis nie lekker om "onder" jou te werk nie. Dis wanneer mense ander werk begin soek en organisasies van hulle heel beste mense verloor.


Tweedens, verdere slegte nuus: Dis uiters swak leierskap! Jesus, die Koning van konings, die enigste Verlosser, die Vredemaker en ook die Christus het Homself beskou as 'n dienskneg. Lees dit self in Filippense 2 verse 6 en 7:


Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse

nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.


Nou ja toe, betitelde, sit dit in jou pyp en rook dit. Dink weer diep oor jou selfsugtige begeertes en behoeftes. Dink weer diep hoe goeie of swak voorbeeld jy is van Jesus-leierskap.

41 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page