top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Tegnologie in die gesin

Tegnologie en skerms het gekom om te bly. Jy kan dit nie wegwens nie. Tegnologie is 'n wonderlike geskenk uit God se hand wat hierdie wêreld verbeter en vorentoe vat, MAAR....... ongelukkig is daar 'n ander kant, 'n donker kant, 'n slegte kant wat maak dat te veel en die onverantwoordelike gebruik van tegnologie en skerms alles en almal om jou kan beskadig. Dit geld vir oud en jonk.


Hoeveel tyd gaan in skerms in elke dag? Wie dissipel jou kind? Jy of die media? Wat kon 'n mens met daardie tyd gemaak het wat veel meer produktief sou gewees het as om besig te wees met sosiale media of speletjies op die foon of tablet? Dis belangrike vrae wat elke ouer hom/haarself moet afvra. Pa en ma, jy is die ouer en dis jou huis waarin hierdie ’te veel’ en ’te lank’ gebeur.


Ons jongmense se kommunikasievaardighede gaan agteruit. Hulle verleer om interaksie met mense te hê - en net so terloops, dis die werklike lewe: interaksie met mense. Verhoudings ly skade en gaan al hoe meer agteruit. Jongmense toon geweldige verhoudingskade in gesinne, en vriendekringe by die skool, universiteit en werk.


Dan kom die verslawingsaspekte ook nog by. Daar is 'n verskynsel wat doodgewoon verslawing aan die internet genoem word. Dis vir die eerste keer deur middel van MRI skanderings ontdek. Dan is daar verslawing aan skerms en ook videospeletjies (veral jong seuns!) en sosiale media (veral jong meisies!). Groot persentasies van ons jongmense is reeds aan pornografie verslaaf. Al hierdie goed werk negatief in op die brein wat emosionele welstand verder laat agteruitgaan.


Boeliery deur middel van skerms (foon, rekenaar en tablet) is algemeen vandag. Dis mos maklik om iemand gesigloos sleg te sê terwyl jy met jou vingers ’praat’. Kinders (en ouers) kan in groot moeilikheid kom en met die gereg bots. Pa en ma, onthou: daardie foon is op jou naam en jy kan aangekla word oor iets wat jou kind onverantwoordelik skryf en stuur via 'n foon.


In kort: pa en ma, neem beheer in jou huis. Dis jou verantwoordelikheid. Ouerskap het nog nooit oor gewildheid gegaan nie, maar oor verantwoordelikheid en goeie verhoudings. Jongmense moet die gevare van ’te veel’ en ’te lank’ hoor, ken en verstaan.

24 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page