top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Suksesvol of betekenisvol?

Die een woord wat jy baie gereeld hoor vandag is die woord "sukses". Almal wil ’suksesvol’ wees. Dit is 'n baie mooi gedagte en beginsel, want niemand wil eendag onthou word as 'n mislukking nie. Tog kan die definisie van sukses baie gevaarlik wees. Dit kan jouself so voed en vir ander mense niks beteken nie. Dit kan so selfgerig wees en jou so selfbehep maak, dat dit een van die gevaarlikste woorde kan wees vandag.


Gereeld vergelyk jy jouself met ander. Dit kan persoonlik wees, dit kan binne-in jou organisasie wees of jy kan jou organisasie (besigheid, skool, kerk.....) so maklik vergelyk met ander:


Waar staan EK?

Hoe presteer EK?

Waarin vaar EK goed?

Wat moet EK verbeter?

Wat kan EK doen om meer uit te staan?


Dis nou wat ek noem die "Me, Myself and I"- sindroom. As jou definisie van sukses net om die "EK" draai is jy op 'n baie gevaarlike plek. Malcolm Forbes het gesê:


"Die mense wat die meeste beteken, besef dat alle ander mense ook die meeste beteken."


Dit is so verskriklik belangrik dat elke leier moet besef dat goeie leierskap nie oor die standaard definisie van sukses gaan nie. Nee, suksesvolle leiers verstaan dat ware leierskap is dit wat jy vir ander kan doen. Hoe kan ek iemand anders se lewe verbeter? Hoe kan ek iemand anders laat groei? Hoe kan ek investeer in iemand anders se vooruitgang?


Pasop dat jou definsie van sukses nie betekenisvolheid uitsluit nie. Wees baie versigtig vir 'n egosentriese lewe as leier. Sien ander se nood en behoeftes raak. Wees 'n uiters suksesvolle leier: investeer in hulle groei en verbetering.

19 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page