• Johan Smith

Ouers: ons dienskneg word die laksman (2)

Mense het tevrede geword om gelike te word, terwyl God die mens gemaak het om geliefd (loved) te wees. Liefde word iets oppervlakkig gemaak deur tegnologie, skerms, internet en ander media. Jy het dalk honderde “vriende” op Facebook waarvan jy die helfte nie eers ken nie. Elke like op sosiale media skei dopamien in jou brein af wat jou goed oor jouself laat voel. Jy raak afhanklik van die dopamien om gelike te voel. Ongelukkig het te min likes die uitwerking om jou waardeloos en verwerp te laat voel.


Vandag se mens het op groot skaal die vaardigheid verloor om een-op-een te kuier en verhoudings te bou. Daar word ‘n taal op sosiale media gepraat wat gejaagd is – om nie eers van die spelling te praat nie. Die mens raak tevrede met oppervlakkige verhoudings waar die ander persoon/e gesigloos is.


Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek is glad nie anti-tegnologie nie! Net vir die rekord, ek is op die oomblik besig om die gedeelte op my skootrekenaar te tik terwyl my slimfoon binne reikafstand van my lê. Ek kan nie en wil nie leef sonder die voordelige gebruik van tegnologie nie. Dis heerlik om tegnologie as ‘n dienskneg in my lewe te hê en ek gebruik dit om my eie en die lewe van ander mense te verryk en te verbeter. Ek is oortuig dis hoe God dit wil hê.


Soos alles in die lewe het God vir mense die vermoeëns en gawes gegee om iets soos tegnologie en media te ontwikkel. Hy wil hê ons moet dit ook gebruik om Hom te verheerlik. In hierdie geval sal dit beteken om ons verhoudingslewe te verbeter: ons verhouding met Hom en ons verhouding met mekaar. Die teenoorgestelde is egter besig om te gebeur. Hi-tech is besig om Hi-touch te oorheers en dis baie skadelik in ons gesinne en vriendskappe.


Ouers, kry 'n tegnologieplan vir jou huis. Maak geen-skerms sekere tye deel van die beleid. maak saam eet as gesin, sonder skerms en tegnologie, deel van jou plan.

3 views0 comments

Recent Posts

See All