top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Ouers: ons dienskneg word die laksman (1)

Helaas, tegnologie, skerms, internet en media het een van die laksmanne geword van verhoudings vandag. Tegnologie, wat jou en my en ons verhoudings behoort te dien, het dit geword wat ons verder en verder van mense af wegdryf. Gesinne kommunikeer nie. Elkeen is op 'n ander skerm. Vriende? ‘n Vriendekring is veronderstel om te sosialiseer en mekaar geniet, maar elkeen is besig met iemand anders buite die kring.

Jy kan maar net mense stip dophou in ‘n restaurant: gereeld is elkeen besig met sy of haar selfoon of tablet. Van saam kuier, oogkontak en heerlik gesels is daar min sprake. By die huis is pa gereeld op sy skootrekenaar, ma kyk televisie en die kinders sit of voor die televise of is besig om heerlik met hulle vriende te kuier via die selfoon. Sonder enige twyfel is tegnologie besig om huwelike en gesinne nie goed te doen nie. Nee, dit beskadig verhoudings op groot skaal vandag.


Omar Bradley sê dit so reguit en raak:

If we continue to develop our technology without wisdom or prudence, our servant may prove to be our executioner.


Omdat ek baie gereeld by skole en kerke oor verhoudings en ook oor die gevare en reg gebruik van tegnologie en sosiale media praat, gesels baie mense met my daaroor. Ek luister gereeld na oud en jonk se stories oor tegnologie en sosiale media. By skole hoor ek gereeld by skoolhoofde en onderwysers dat ouers hulle kinders by die skool oplaai met die selfoon teen die oor. Daar is nie eers tyd vir ‘n drukkie, soentjie of ordentlike “hallo” nie. Dit gebeur gereeld. Sommige skole het tot al nuusbriewe hieroor na hulle ouers uitgestuur. Die voorbeeld wat baie ouers dus stel wat die regte en goeie gebruik van tegnologie aanbetref, is ongelukkig beklaenswaardig vandag.

So, ons roem daarop dat die mensdom nog nooit so konnekted was soos voorheen nie. Na vier en dertig se ervaring van werk met jongmense en gesinne, gereelde inbou in hulle lewens en baie gereelde praatjies oor onder andere “die gevare en regte gebruik van tegnologie en sosiale media”, kan ek nie sterk genoeg hiermee verskil nie. Ek is oortuig dat die mensdom spesifiek in huwelike en in die gesin nog nooit so diskonnekted was soos nou nie. Die kwaliteit van huweliks- en gesinsverhoudings is aan die agteruitgaan. Dit is in trurat soos nog nooit vantevore nie! Pa en ma, tree op en beheer tegnologie, internet en skerms in jou huis.

4 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page