top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Op jou knieë vir jou kinders

Wanneer jy na die wêreld kyk waarin jou kind moet grootword, is dit genoeg om jou yskoud te laat word. Daar is soveel geweld en bitter min liefde. Sedes, norme en waardes bestaan vir baie min mense. Aborsie-statistieke is eenvoudig skrikwekkend. Dronkenskap en die nare gesingeweld en ander gevolge daarvan, is algemeen. Dekadensie is aan die orde van die dag. Die internet is 'n gevaarlike speel- en besoekplek as jy dit nie verantwoordelik doen nie. Ja, jy voel soms jou kind word soos ’n skaap vir die wolwe gegooi. In hierdie verwoestende wêreld is gebed vir jou kind baie belangrik, selfs onontbeerlik.


As ouer kan jy wonderlike bemoediging kry uit die verhaal van die Kanaänitiese vrou en haar dogter wat in die mag van die duiwel was (Matteus 15). Die ma het opreg en aanhoudend by die Here gepleit en aanvanklik geen antwoord gekry nie. Sy het egter aangehou en vasgehou aan die Here en geglo die Here sal haar kind red ... en Hy het!


Lees gerus Matteus 15 vers 28:


“Weet jy, jou geloof is baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” Van daardie oomblik af was haar dogter gesond.



Op baie plekke in die Bybel gee God die versekering dat Hy wil hê geen mens moet verlore gaan nie. Hy wil hê elke mens, ook elke kind, moet gered word. Het jy as ouer al met opregtheid, volharding en smeking na God gegaan en gepleit vir jou kind? Indien daar nog geen vrug is nie, hou aan. Bid jou kind terug na God toe. Bid gedurig vir jou kind se bewaring van die Bose.


Dis belangrik dat Pa en Ma saam voor die Here kom en saam hulle kinders aan die Here opdra. Bid vir hulle in hulle bepaalde omstandighede. Bid vir hulle vriende en toekomstige lewensmaat. Julle gebede kan die verskil maak.

20 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page