Ek het die vorige nuusbrief begin met die volgende woorde:
Die "lonesome cowboy" pad werk nie meer vandag as dit kom by goeie leierskap nie. 'n Goeie leier moet kan netwerk - daar moet mense wees (buiten jou eie interne span) met wie jy in vennootskap staan. Die goeie vraag is hoe kies jy hierdie vennote? Jou oordeelsvermoë is hier baie belangrik, want foute op hierdie vlak kan jou baie duur te staan kom. Ek lig vir jou 'n paar verdere kriteria uit wat jou in diė verband kan help ('n vervolg op die vorige nuusbrief):
(6)
Jy kies nooit iemand as vennoot wat sommer by die eerste opdraand ophou met die wedloop en langs die pad gaan sit nie. Nee, volharding is uiters belangrik. "Aanhou" en "uithou" is die wagwoorde van 'n goeie leier en dis die tipe mens met wie jy in vennootskap wil staan. "Ek kan nie" vorm nie deel van hulle woordeskat nie. Die lewe is uitdagend en selfs soms ingewikkeld; daarom is volharding so belangrik.
(7)
Sam Chand, 'n briljante leier, gee uitstekende raad by jou keuse van mense met wie jy graag wil saamwerk:
"Ons begin almal die lewe deur ons eie leer te klim en vir onsself te leef. Mettertyd begin party mense verander van om hulle eie leer van sukses klim en begin vir ander lere bou."
Jou vennoot vind dus vreugde daarin om ander te verbeter en ander te laat groei.
(8)
'n Goeie vennoot is iemand wat bereid is om op te offer ter wille van ander. Die take wat vir ander te vuil, onaangenaam of swaar mag wees - hulle steek die hand heel eerste op en offer op en maak hulle hande vuil. Hulle is die tipe van mense op hulle knieë besig om ander se voete te was. En hulle skouers is breed genoeg dat ander daarop kan staan om hoër en beter as hulle te wees.
(9)
Goeie vennote is nie grootpraters en niksdoeners nie. Nee hulle "walk the talk". By hule vind jy nie net gedurig mooi en goeie voornemens nie. O nee, hulle beweeg! Hulle is doeners! Hulle is aktief! Hulle laat dinge gebeur. Hulle is mense wat besef die lewe is kort en moet voluit geleef word. Ja, hulle verstaan dat goeie voornemens nog nooit die wêreld verander het nie.
(10)
'n Goeie vennoot maak van jou 'n beter mens. Jy word aangespoor deur die persoon se karakter. Jy word geïnspireer deur die persoon se passie. Jy leer uit die persoon se woorde en dade.
コメント