top of page
  • Writer's pictureHelena Smith

My kind kry swaar, wat nou?

As ouers sal ons alles in ons vermoë doen om ons kinders teleurstelling te spaar. Jou hart wil breek as jou kind die een of ander teleurstelling gehad het.


Jy en jou kind het dalk gedink hy gaan as leier gekies word. Dit gebeur toe nie. Miskien wil jy sommer dadelik die skool gaan beskuldig oor die onregverdige stelsel. Alles net om jou kind gelukkig te maak.


Liewe ouers, die waardevolste lesse en karaktervorming gebeur in tye van teleurstelling. Nou is dit die die tyd om jou kind te leer dat die lewe soms onregverdig is en dan slegte goed soms met goeie mense gebeur. Geen intervensie van jou kant, om jou kind se pad gelyk te maak, kan jou kind hierdie waardevolle les leer nie.


As jou kind byvoorbeeld nie as leier gekies is nie, leer hom dat hy nog steeds ‘n leier kan wees deur sy positiewe gesindheid en optrede. Leer jou kind dat ‘n suur houding na ‘n teleurstelling soos hierdie, net homself sal benadeel.


Dikwels sien ek dat verontregte ouers na die skool stroom as hulle kind nie ‘n sportspan gehaal het nie. Soms stuur ouers selfs hulle kinders na ‘n ander skool. Watter lewensles leer ‘n kind daaruit? Onlangs het ‘n vriendin van my se dogter nie haar skool se A hokkie-oefengroep gehaal nie. Natuurlik was sy verpletter, want sy het baie hard geoefen. My vriendin en haar man het toe hulle dogter aangemoedig om die beste B-span speler te wees en ook die speler met die beste gesindheid.


In tye soos hierdie kan jy en jou kind gerus weer Romeine 5 vers 3 lees:

…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard.


Liewe ouers, in tye van teleurstelling moet jy nie soos die tipiese grassnyer-ouer maak wat die paadjie wil oopsny vir jou kind nie. Wees egter daar met liefdevolle ondersteuning en ‘n bereidwillige oor. Maak seker dat jou kind gemaklik sal voel om met jou te praat en verseker hom van jou voorbidding. Wees ook bereid om soms saam te huil en stukke van jou kind se hart op te tel. Moeilik, ja, maar het jy al ‘n geestelik volwasse mens ontmoet wat nog nooit moeilike tye beleef het nie?


28 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page