top of page
  • Writer's pictureStephan Joubert

Moenie konflik systap nie - hanteer dit

Vanuit die boek: “Leierskap 101”


My job is not to solve people's problems or make them happy, but to help them see the grace operating in their lives.

- Eugene H. Peterson


Working with you makes me sick! So klink die titel van een boek op my boekrak. Feit is, mense vryf mekaar gedurig verkeerd op. Konflik is 'n deel van die meeste mense se lewe vanaf die werk tot in die kerk. Ongelukkig word konflik in kerklike geledere dikwels swak hanteer omdat dit ontken, onderdruk of haastig weggepraat word. Christene moet mos vriendelik wees en nooit van mekaar verskil nie. Dit lei egter tot rugstekery, groepvorming, skinderpraatjies en verdagmakery. My een vriend sê juis dat die kerk ter wille van die waarheid allerlei leuens in stand hou!


Dit is nie waar dat kerklikes nie eerlik met mekaar mag praat as hulle van mekaar verskil nie. Dink maar aan Paulus, die groot apostel van die liefde (1 Korintiërs 13). Hy het nie gehuiwer om Petrus in die openbaar aan te vat toe hy eenkeer die beginsels van die evangelie gekompromitteer het deur terug te val in uitgediende Joodse kosgebruike nie (Galasiërs 2:11-14). Paulus was nie 'n konflikvermyder nie, maar eerder 'n konflikhanteerder. Hy het nie ten alle koste vrede gesoek nie, want hy was nie 'n “people pleaser" nie. Tog het Paulus nooit "reguit wees” met “ongeskik wees" of met "liefdeloos wees" verwar nie.


Te veel geloofsgemeenskappe is onveilige plekke omdat konflik nooit behoorlik hanteer word nie. Ons moenie konflik systap nie; ons moet dit reg hanteer. Ons werk as leiers is nie om mense se probleme vir hulle uit te sorteer nie, ons roeping is om konflik te briek deur hulle toe te rus om aanspreeklikheid vir die oplossing vir van hulle eie moeilikhede te aanvaar. Paulus bied aangrypende koersaanduiders hiervoor:


“Moenie te kwaai met 'n ouer man praat nie. Praat liewer mooi met hom asof hy jou eie pa is. Jonger mans moet jy behandel asof hulle jou broers is, ouer vroue asof hulle jou ma is en jonger vroue asof hulle jou susters is. Jy moet hulle altyd so behandel dat hulle jou sal respekteer. “

- 1 Timoteus 5:1-2, Die Boodskap


Wanneer daar konflik is, moet vergifnis altyd wen. En God se genade. Jy moet vir mense leer vergifnis werk nie soos optelsomme nie. Jesus se volgelinge hou nooit rekord van ander se foute nie; ook nie van hoeveel keer hulle al vergifnis uitgedeel het nie. Natuurlik is ons nie blind vir foute nie. Maar ons hou dit nooit teen mekaar nie. Ons hersirkuleer nooit lelike stories oor mekaar nie. Net so hou ons ook nie haatpraatjies agteraf in stand nie. Ons maak graag boeke toe, want dis wat die Heer met ons almal maak!



36 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page