top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Mag is 'n gevaarlike ding

As jy werklik ‘n persoon se karakter wil sien en onderskei, gee hom mag. Dis dan wat die ware “jy” vir almal ten toon gestel word. Soveel mense gebruik hulle mag om ander af te kraak en af te breek. Sommige weer gebruik dit om hulself te verryk deur korrupsie en bedrog. Vir ander is mag die manier om hulle eie ego’s te voed en op te blaas soos opgeblaasde brulpadda’s. Mag het ook ‘n ander kant, ‘n positiewe kant. Die reg gebruik van mag kan baie mense se lewens positief aanraak en beïnvloed. Die regte gebruik van mag kan ander opbou en hulle lewens verbeter. Ag, ek wens vir meer leiers op alle terreine van ons samelewing wat mag reg wil gebruik. ‘n Besondere mens in Suid-Afrika, die bekende en geliefde Biskop Desmond Tutu, skryf so mooi oor die verkeerde en ook die regte gebruik van mag: Real leaders are nor blinded by the trappings of power but recognize their role as servant. Hy spel dit uit: die verkryging van mag maak baie mense blind. Mag moet reg gebruik word en dis om ander te dien. Daar is geen probleem met mag as dit reg gebruik word nie. Daar is duisende leiers in Suid-Afrika, sakewêreld, politiek, onderwys, gesondheid en vele ander terreine en velde – die vraag is hoeveel van hule gebruik mag op die regte manier? Hoeveel van hierdie leiers is ware diensknegte wat daarop fokus om ander se lewens te verbeter? ‘n Ander heldin vir baie in Suid-Afrika, advokaat Thuli Madonsela, skryf weer: Living your life the best you know how is important. Living you life in a way that empowers others to live their best life is the best. Is hierdie woorde van haar nie dalk presies wat haar so ‘n besondere mens maak nie? Is hierdie woorde van haar nie presies die rede hoekom sekere politici haar met passie teengestaan het as gevolg van hulle magsmisbruik nie? Sien, as jy geseën word met mag, gebruik dit om ander daarmee te seen en nie om hulle te straf nie. As jy met leierskap vertrou word, gebruik dit sodat ander opgehef kan word om hulle beste lewens te kan lei. Lees ook weer die eerste sin van laasgenoemde aanhaling. Om jou beste lewe te lei, is juis om op ander te fokus en om ander se lewe te verbeter. Wat gaan jou ‘n groter en dieper tevredenheid gee as om te weet jou lewe verbeter die lewens van ander mense? Dis mos ‘n diep tevredenheid wat nie met geld gekoop kan word nie.


20 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page