top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Leuens oor sonde - 3

Die vorige twee nuusbriewe is as volg begin:

Die Bybel is baie reguit en baie duidelik oor jou vyand, die duiwel: hy is die vader van die leuen volgens Johannes 8: 44:


Hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.


Leuen nommer 5: Sekere sonde kan God nie vergewe nie


Die duiwel is die een wat jou versoek en hy kry dit maklik reg om sonde aanloklik te laat lyk. Die oomblik wat hy jou gevang het in sy web, is dit asof hy jou wil verwoes met skuldgevoelens. Hy kom steel jou vreugde en jy loop met ‘n lang gesig rond. Sekere goed wat jy gedoen het, laat hy jou deur sy leuens verstaan, is net te groot en te erg vir God om te vergewe. Dan herinner hy jou ook baie gereeld aan daardie een of twee gereelde sondes in jou lewe waarmee jy opreg sukkel. Die skuldgevoelens hoop dan ook net verder op. Dan loop jy vir die res van jou lewe met skuld en voel vuil. Jesus sê vir ‘n wrede moordenaar en krimineel langs Hom aan die kruis in Lukas 23: 43:


Ek verseker jou: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”


Ja, God vergewe in ‘n oomblik as jy Hom opreg nader met jou sonde en gebreke. God se reaksie op opregte berou is altyd vergifnis. Vra maar vir ou Saggeus, die tollenaar wat baie mense erg verneuk het met hulle belastinggeld. Die kort mannetjie het in ‘n hoë boom geklim so graag wou Hy Jesus sien. Jesus sien sy hart raak en gaan eet by hom. Hy en sy hele huis ontvang vergifnis en redding van ‘n genadige Jesus lees jy in Lukas 19: 9 en 10:


Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en red wat verlore is.”


In 1 Petrus 5: 8 word jy verder gewaarsku oor jou vyand:


Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.


Jy het verseker al op televisie gesien as ‘n groot, wrede leeu ‘n bok bekruip, jaag, vang en verslind. Dis die beeld wat die Bybel gebruik om jou vyand te beskryf. Volgens die woordeboek beteken verslind “gulsig opsluk”. Weet, dis wat die duiwel met jou wil doen.


Laat dit net nie toe nie: wees wakker, wees op jou hoede - stap met geesdrif en passie agter Jesus aan. En onthou: deur Jesus se genade is daar altyd vergifnis.






7 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page