top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Leuens oor sonde - 2

Die vorige nuusbrief oor die tema het as volg begin:


Die Bybel is baie reguit en baie duidelik oor jou vyand, die duiwel: hy is die vader van die leuen volgens Johannes 8: 44:


Hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.


Leuen nommer 3: Solank die meerderheid dit doen, kan dit mos nie verkeerd wees nie.


Een van die baie redes hoekom jongmense onverskillig raak met sonde en so maklik toegee aan die duiwel se slinkse planne, is “almal doen dit tog”. Met ander woorde, jou norm waarvolgens jy jou lewe inrig en jou keuses en besluite neem, is nie meer gehoorsaamheid aan God en sy Woord nie, maar wat doen die res van die samelewing. Die Bybel is baie reguit oor die hele meerderheid-minderheid gedagte in Matteus 7: 13-14:


Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en die wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en die wat dit kry, is min.


Daar is geen gevaarliker norm om te gebruik as “almal doen dit tog” nie. Die kans dat jy dan teen God gaan kies en jou vingers met sonde gaan verbrand, is baie groot. Daarom, keer terug na God se Woord as jou standaard en norm.


Leuen nommer 4: God stel nie regtig in jou liggaam belang nie.


Die tragiese van jongmense vandag is dat hulle hulle liggame vreeslik verwaarloos. Baie is onverskillig wat hulle liggame aanbetref.


Jy kan nie jouself ‘n christen en kind van God noem en nie aandag aan jou liggaam gee nie. Die Bybel is baie reguit daaroor dat jy nie net jouself kan oorgee aan seksuele losbandigheid en op enige ander manier jou liggaam verwaarloos nie. Kom ons lees wat staan in 1 Korintiërs 6: 13(b), 15(a) en 19:


‘n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is.


Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie?


Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie?


As jy die verse mooi lees sal jy agterkom dat dit oor veel meer gaan as net seksuele losbandigheid. Dit gaan ook oor genoeg oefen, gesond eet, jou weerhou van ooreet en wegbly van dinge soos drank en rook wat jou liggaam kan beskadig.


7 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page