• Johan Smith

Leuens oor sonde

Die Bybel is baie reguit en baie duidelik oor jou vyand, die duiwel: hy is die vader van die leuen volgens Johannes 8: 44:


Hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.


Hierdie is ‘n belangrike waarskuwing aan jou en aan my oor ons vyand. Hy lieg sodat hy die vader van alle leuens genoem word. Om te lieg is sy aard en sy karakter.


Leuen nommer 1: Wat is sonde nou? Daar word ‘n onnodige

bohaai daaroor opgeskop.


Die media, veral skerms, is vandag propvol geweld, sekstonele, saambly, bedrog, buite-egtelike verhoudings, en dronkenskap. Dit word as die norm voorgehou en uiteindelik dink baie jongmense dis okei. Jy rig jou lewe dan volgens die skewe en siek waardes en beginsels in. Nadat jy die dinge gedoen het, voel jy egter so skuldig en sleg en ver van God. Skuldgevoelens druk jou spreekwoordelik onder die grond in. Jy voel skaam en beleef jouself in skande as gevolg van dom en verkeerde keuses.


Sonde het nare gevolge en skei jou van God sê Jesaja 59: 2:


Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.


Leuen nommer 2: Sonde is lekker


Romeine 6: 23 is baie reguit oor die gevolge van sonde:


Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.


Sonde kom altyd in ‘n pakket: die sonde en die gevolge daarna. Dalk is dit lekker om vir ‘n kort rukkie dronk te word saam met jou vriende. Dalk gee dit jou groot kicks om vir ‘n rukkie op ‘n trip te gaan as gevolg van dagga of ander dwelms. Dalk vergeet van jy van al jou sorge as jy in kortstondige, one-night stands gaan met ‘n paar gewillige ouens of meisies. Daarna is jy egter die een wat die gevolge van jou dade in die gesig moet staar. Dit is dan wat die skuldgevoelens inskop en daardie ’ver-van-God-gevoel’ die oorhand kry. Dan begin die stryd teen die kettings wat jou bind, ‘n stryd omdat jy ‘n slaaf van die sonde geword het.


(Verdere leuens wat mense so maklik glo, volg.)


Intussen, hou vas aan Jesus en weet die Evangelie is die goeie nuus van vergifnis vir alle sonde - "groot" en "klein". God wag vir jou ware berou en Hy is altyd gewillig om jou te vergewe.

10 views0 comments

Recent Posts

See All