top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Leiers sien altyd die groter prentjie

Ek is iemand wat lief is vir oefen. Kom ek stel dit meer korrek en deel die volle waarheid: ek is iemand wat soms lief is vir oefen, want daar is tye wat dit doodgewoon sleg en swaar en moeite en harde werk is. Daar het jy nou die volle waarheid. Hoekom doen ek dit dan? Daar is ‘n groter prentjie. Oefening is baie goed vir my brein en die afskei van positiewe hormone in my brein. Dit help my om fiks te wees en daarom gesonder en dit help my om ‘n hoë lewenstempo te kan handhaaf. Daarom is die pyn die moeite werd. Daarom is die hard en sleg en swaar die moeite werd. Daar is ‘n sekere wet in die lewe, naamlik die wet van uitgestelde voordeel. Dis ‘n wet wat ek in my kinders se koppe en harte ingedril het. Eet nou gesond en hê oor die langtermyn ‘n gesonde liggaam. Spaar nou sodat jy later kan spandeer. Hierdie wet leer ‘n mens om aan die toekoms te dink. Vat nou pyn, vat nou die hard en sleg ter wille van voordeel later. Dis wat elke goeie leier doen: hulle neem besluite met die toekoms in gedagte. Hulle gaan nie nou dom en dwaas besluite neem wat die toekoms kan skaad nie. Nee, hulle dink en leef toekomsgerig. Hulle dink aan hulle organisasie oor 5 jaar en 10 jaar van nou. Dis wat hulle besluite beïnvloed en dryf. Baie leiers dink aan die hier en die nou en voel ‘n veer vir die groter prentjie wat die toekoms verseker insluit. Kortstondige, oorhaastige besluite word geneem wat hulle en hulle organisasie skade kan berokken. Onthou ook altyd Paulus se woorde van “wat jy saai sal jy maai.” Daarom is dit so belangrik om altyd toekomsgerig en altyd met die groter prentjie in gedagte besluite te neem. Dit is soms nodig om moeilike besluite te neem wat dalk oor ‘n periode van ‘n maand of twee ongerief kan veroorsaak. Enige goeie leier het egter die vermoë om aan sy span te verduidelik wat die redes is. Enige goeie leier het die vermoë om die toekomsprentjie en die voordele van die besluite op die toekoms te kan skets. Enige goeie leier moet dus die vermoë hê om sy span met hom te kan saamvat omdat dit voordelig is oor die langtermyn. Gegewe die groter prentjie is dit goed, reg en die beste vir almal in die organisasie. Theodore M Hesburgh skryf die volgende: The very essence of leadership is that you have to have vision. You can’t blow an uncertain trumpet.

Hierdie is ‘n heerlike uitdaging vir elke leier: dink en beplan met die toekoms in gedagte. Sien altyd die groter prentjie en vat jou mense saam met jou.


23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page