top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Lei soos Jesus (2)

Nog 'n baie belangrike eienskap van ‘n leier volgens die voorbeeld van Jesus is integriteit. Integriteit is baie moeilik om te definieer, maar kom ons gesels oor ‘n paar eienskappe daarvan. As ek die woord “integriteit” hoor, sien ek onmiddellik ‘n spieël. Hoekom? Omdat ek glo dat iemand met integriteit iemand is wat hom/haarself in die spieël in die oë kan kyk en tevrede kan wees met dit in hulle lewe aan die gang is. Hoeveel mense vandag lewe as hulle alleen en privaat is, dieselfde lewens as voor ander mense? Is dit wat mense van jou sien werklik wie jy is? Of is daar ‘n anderkant wat jy diep en goed wegsteek? As dit waar is, het jy ‘n probleem met integriteit.


Iemand met integriteit is iemand wat die regte keuses kan maak. In vandag se tyd is daar so baie versoekings en dit ook nog terwyl norme en waardes by die agterdeur uitgaan. Dit is in die meeste gevalle so dat die meerderheid van die mense nie Bybelse beginsels navolg en nastreef nie. ‘n Leier, soos Jesus, is iemand wat Bybelse norme raadpleeg en volg en daarvolgens keuses maak. Dit is ‘n leier met integriteit. So ‘n leier gee nie maklik toe aan die druk van die meerderheid nie, maar kies en doen dit wat reg is.


Iemand met integriteit is ook iemand wat konsekwent in sy optrede is. Jou “ja” is jou “ja” en jou “nee” is jou “nee”. Mense weet presies wie en wat jy is, hulle weet volgens watter beginsels jy jou besluite neem. Jy sal nie Maandag “ja” sê vir een ding en volgende week en Maandag “nee” sê vir dieselfde ding nie. Nee, daar is konsekwentheid in jou besluitneming en in jou dade. Die weer bepaal nie jou buie nie. Jesus leef in jou en dit is wat jy na jou volgelinge uitleef en uitstraal.


Iemand met integriteit is iemand wat in die lig lewe. Daar is nie geheime agenda’s nie; bedoelende daarmee dat jy nie gaaf is met mense om eintlik iets uit hulle te kry nie. Met ander woorde ‘n leier met integriteit is nie ‘n manipuleerder nie. Hy is opreg in wat hy sê en doen. Hy probeer nie mense se guns op vals en oneerlike maniere wen nie. Sy gedagtes en gesindheid is in die lig vir almal om te sien. ‘n Onbekende persoon het integriteit gedefinieer as:


Om goed te wees as niemand jou dophou nie.


8 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page