top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Lei soos Jesus 1

Die grootste leier van alle tye was Jesus Christus. Hy het ‘n invloed op mense se lewe gehad wat ongeëwenaard is. Vandag nog verander duisende mense se lewens daagliks as gevolg van die invloed van Jesus Christus. Wat ‘n leier! Wat ‘n voorbeeld om na te volg!


Die eerste eienskap wat ek oor leierskap wil uitlig, is dat ‘n leier altyd ‘n nederige persoon is wat bereid is om ander te dien. Dit is seker die een eienskap wat Jesus onderskei van alle ander groot en bekende leiers deur die eeue. Hy was nie net ‘n voorbeeld van wat nederigheid is nie. Nee, Jesus was nederigheid. Filippense 2: 7 en 8 beskryf Jesus se nederigheid baie raak:


..maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.


Jesus was nie een van daardie tipe leiers wat te ‘grand’ of te belangrik was om met die mense te meng en geassosieer te word nie. Nee, Hy was voortdurend by en tussen die mense. Hy het Homself nie verhef en op ‘n troontjie geplaas nie. Inteendeel, Hy was plat op die aarde. Hy is nie die heeltyd bedien en het net links en regs gehiet en gebied nie. Hy is die Een wat saam met die tollenaars geëet het. Jesus het gekom vir die wat ongered was en Hy het tussen hulle beweeg. Hy was nie bang om sy hande vuil te maak en ander te dien nie. Dwight Moody het die volgende hieroor gesê:


Die grootheid van ‘n mens word nie gemeet aan die aantal bediendes wat jy aanhou nie, maar aan die aantal mense wat jy dien.


In Johannes 13 lees jy weer hoe Jesus sy dissipels se voete gewas het. Dink mooi oor die een een: Jesus, die leermeester en leier, was sy dissipels se voete! Dan gee Hy ook duidelik die opdrag dat ons dit aan ander moet doen. Hy stel die voorbeeld en Hy verwag dat sy volgelinge dieselfde sal doen. Dis ‘n ander tipe leierskap as wat ek en jy in die wêreld gewoond is. Hier wil almal leiers wees omdat daar een of ander ‘glamour’ in lê. Jesus kom haal die prag en die praal uit leierskap en wys dit is om te lei deur jou voorbeeld van diensbaarheid en jou volgelinge se dienskneg te wees.



Dink aan tipiese leiers van vandag en jy sal verseker min diensbaarheid sien. As jy dink aan leiers dan kan jy dink aan staatshoofde of top sakeleiers en onmiddellik sien jy blink, slap, luukse motors. Jy sien groot huise wat lyk soos paleise. Hulle bly in die beste voorstede in die blinkste huise en ry die luukste motors. Hoe rym dit met Jesus se voorbeeld van nederige dienskneg wees vir sy volgelinge.

8 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page