Elke jaar is die aanbreek van ‘n nuwe jaar 'n mylpaal waarin jy half gedwing word om terug te dink oor die jaar wat verby is. Wat was goed en wat was sleg - watter keuses het jy gemaak waaroor jy spyt is en sekere keuses waarvoor jy jouself ‘n klop op die skouer kan gee? Daar is baie mylpale in elke mens se lewe. Jou een en twintigste verjaardag is byvoorbeeld een en daarna jou dertigste, veertigste en vyftigste verjaardae. Sulke tye dink jy gewoonlik terug oor die jare wat verby is en maak so bietjie van ‘n voorraadopname. Jy gaan dalk met sekere dinge baie tevrede en gelukkig wees en met ander minder tevrede, of ontevrede. Aan die einde van alles en vele verduidelikings en redenasies sal jy moet toegee dat wat jy is, is die resultaat van jou keuses. Dit help nie jy blameer ander vir teleurstellings nie. Hoe jy op situasies reageer is ook ‘n keuse en ‘n besluit wat net jy kan maak.
Elke keuse op sy beurt hang weer af van jou gesindheid teenoor die lewe. Is jy positief en lus vir die lewe en aanvaar daarom uitdagings en leef voluit met energie en passie? Sien jy geleenthede waar ander mense net donker nag en probleme sien? Of is jy swartgallig en pessimisties en sien jy net probleme soos jy aangaan op jou lewenspad? Jou gesindheid teenoor die lewe is oneindig belangrik, want dit bepaal die tipe keuses wat jy gaan maak en daarom ook wie jy is en eendag gaan wees. Behoed jouself daarvan om eendag op ‘n veertigste of vyftigste verjaardag terug te dink en spyt te wees oor jou uitkyk op die lewe en die negatiewe gesindheid waarmee jy die lewe benader het. Behoed jouself vandag van ‘n pessimistiese gesindheid wat maak dat die lewe vir jou ‘n straf is in plaas van ‘n uitdaging en ‘n plesier. Jou keuses vandag bepaal wie en wat jy oor 20 jaar van nou af gaan wees.
Die Bybel sê in Deuteronomium 30: 19 dat die Here in elke situasie twee keuses vir jou gee. Jy kan en moet kies:
Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.
In elke situasie en elke omstandigheid is daar keuses wat gemaak moet word. Die keuses impliseer of lewe of dood. Kies reg! Die Here is so ernstig dat jy die lewe moet kies, dat Hy in die spesifieke Skrifgedeelte sommer vir jou sê ook wat jy moet kies. Ja, jy het ‘n keuse, maar asseblief, sê die Here, kies tog die lewe ter wille van jouself. Dis soos om ‘n eksamenvraestel te skryf en die opsteller van die vraestel gee vir jou die antwoord. Die Here sê vir jou wees positief, kies die lewe, kies vir hoop en kies om voluit en met passie te leef.
Comentários