top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Kinders is geskenke


Mense kan jou gereeld baie verbaas of verras. Party mans kan byvoorbeeld hulle motors, sporttoerusting of horlosies so wonderlik versorg. Die motor word gereeld gewas met die duurste sjampoe. Dit word gereeld gestofsuig en daar word gedurig iets nuuts gekoop om die motor nóg beter te laat lyk. Spesiale skoonmaakmiddels word ten duurste gekoop vir die egte leerbaadjie of skoene. Ure en ure en baie geld word aan die kosbare besitting bestee. Dit kan dalk vergelyk word met die moeite wat ’n vrou met haar hare doen. Net die beste haarkapper durf dit naby haar kop waag. Die hare word gekleur, gesny en geblaas, en die hele proses herhaal elke maand. Dit kos ’n fortuin, maar geen tyd of geld is te veel gevra vir dit wat belangrik en kosbaar is nie.


Ja, kosbare besittings vra tyd en geld. As iets vir jou ’n prioriteit is, is dit tog eintlik vanselfsprekend dat jy baie energie daaraan sal bestee, en ’n groot deel van jou fokus in die lewe sal daarop ingestel wees. As ouers net wil besef dat hulle kinders eintlik hulle kosbaarste geskenke is. Jou kind behoort jou belangrikste prioriteit te wees.


Moenie dink as jy baie moeite doen met hulle sportafrigting en vir hulle baie en duur klere koop, doen jy genoeg nie. Al die ekstra klasse en privaat afrigting ter wille beter prestasie (nie agterstande nie) word met 'n glimlag betaal en die rondry daarvoor is geen moeite nie.


Bestee jy die meeste van jou tyd aan jou kinders? Belê jy in jou kinders se geestelike ontwikkeling en nie in hulle wêreldse heil nie? Onthou, wêreldse heil is tydelik en dit leer hulle verkeerde waardes. Bestee jy genoeg tyd aan jou kind sodat hulle emosioneel gesond kan wees? Is jy besig om hulle vólle potensiaal raak te sien en te ontwikkel? Is jy op jou knieë voor die Here om by Hom te hoor wat jy volgende moet doen of waar jy iets moet regmaak?


Dink net weer hoe belangrik en kosbaar jou kind vir God is. Is jou kind vir jou net so belangrik? Is jou kind werklik ’n hoë prioriteit in jou lewe?


Psalm 112: 1-2 sê:


Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien, wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here. Sy nageslag is ’n sterk krag in die land, die geslag van die opregte word geseën.



50 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page