top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Jou status

Status en titels is vir baie mense baie belangrik! Hulle hele bestaan is gebou rondom hulle profiel in die samelewing. In die Weermag kry jy verskillende range en ‘n mens hoor baie stories van hoe die mense met hoër range nie graag meng met die mense met die laer range nie. By universiteite kry jy doktore en professore. Ja, sommige mans se vroue verkies om as Mevrou Doktor aangespreek te word as gevolg van haar man se titel. Om nie eers te praat van die Mevrou Dominees of Pastoor wat die wêreld vol is nie. Gelukkig is daar ook die wat dit verpes. Om ‘n lang storie kort te maak, titels en status is vir baie mense verskriklik belangrik – doodgewoon te belangrik.


Daar is egter een titel wat niemand van jou kan wegneem nie: kind van God. As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Saligmaker en Verlosser gee God jou die reg volgens Johannes 1: 12 om jouself kind van God te noem.


Maar aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het hy die reg gegee om kinders van God te word.


Dis ‘n reg wat God self aan jou gee en daarom kan niemand dit van jou wegneem nie. Hierdie is ook nie ‘n titel wat jy voor gewerk het of deur prestasie verdien het nie. Nee, Jesus het dit in jou plek verdien aan die kruis. Dit is deur sy verdienste dat jy jouself kind van God kan noem. Dis eintlik 'n geskenk aan jou.


Maar daar is verskriklik baie ander titels en name wat God jou gee as jy sy kind is. ‘n Ander een lees jy van in 1 Tessalonisense 5: 5:


Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.


Iemand het dit een keer so mooi verduidelik toe hy gesê het dat daar nie eintlik iets is soos duisternis nie. Sy verduideliking was dat duisternis doodgewoon die afwesigheid van lig is. Jy kan in ‘n groot donker saal instap en skaars jou hand voor jou oë sien. Steek net ‘n vuurhoutjie op en onmiddellik is daar lig in die saal. Of nog beter, steek ‘n kers aan en jy kan sien waar jy loop en waar jy beweeg. Dis verbysterend wat die aanwesigheid van ‘n klein bietjie lig in ‘n groot donker plek kan doen. ‘n Flitslig se klein liggie in ‘n donker veld is nog ‘n voorbeeld van die krag van lig.


Ja, lig verdryf duisternis! Al is jy die enigste een in ‘n sportspan wat die Here dien, kan jy jou lig so helder laat skyn dat dit die duisternis verdryf. Jy kan die enigste christen wees in ‘n plek en jou lig kan die duisternis verdryf. So, onthou die status wat God jou gee as kind van die lig!


Felix Adler som dit mooi op:

Mense van God is hulle wat deur die donker wêreld stap – en in hulleself ‘n Lig dra.


29 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page