top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Hou aan om nooit op te hou nie

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: No guts, no glory. Nêrens is dit meer waar as in die lewe van ‘n christen nie. Kom ons sê dit weer vir mekaar: die wêreld waarin ek en jy leef is wreed, rof en onbeskof – nie baie verbruikersvriendelik nie. Dan is daar die wrede vyand wat jou wil verwoes. Maak dus die aanname dat daar swaar en moeilike tye in jou lewe gaan wees. Daar gaan dinge met jou gebeur wat jy nie gaan verstaan nie. Om ‘n christen in die eerste plek te wees en dan ook nog ‘n ware oorwinnaar is nie vir sussies nie. Dis vir manne en vroue met guts. 'n Wenner is iemand wat doodgewoon nooit moed verloor en tou opgooi nie. Dis iemand wat nie die woord “ophou” ken nie. Nee, “aanhou” is die kenmerkende woord van ‘n wenner se woordeskat. Harde werk en volharding is kenmerke wat die hart van ‘n wenner vul. Die Bybel is baie spesifiek en raak wanner hy sekere beelde en simbole gebruik om christene te beskryf. Jy lees van enkeles daarvan in 2 Timoteus 2: 3-6: Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus… ‘n Atleet wat aan ‘n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding… Die boer wat die harde werk doen, behoort eerste ‘n deel van die oes te kry. Die woord “vasbyt” is deel van ‘n soldaat se spreektaal. My weermagdae sal ek nie lig kan vergeet nie. Daardie elke oggend se vier uur opstaan en ‘n bed volmaak opmaak en daarna alles laat blink vir die inspeksie staan die oggend dag na dag na dag kan mens nie gou vergeet nie. Ure se dril op die paradegrond was elke dag aan die orde van die dag. Dan was daar ook nog ook die daaglikse oefening en hardloop en so kan ek aangaan. Dit vra vasbyt: volharding! Enige atleet sal jou vertel dat jy nie net aantree en die Comrades marathon of Olimpiese Spele wen nie. O nee, dit neem jare en jare se doelgerigte en harde werk. Daar is die alewige beserings wat enige sportman of –vrou jou sal van vertel. Dan is dit weer oor begin en harder werk en oefen. Dit vra volharding om oor te begin. In ‘n marathon is krampe en ander spierpyne ‘n groot probleem. Soms is dit doodgewoon guts wat ‘n atleet daardeur dra. Menige nagte is dit vroeg slaap terwyl familie en vriende nog lekker kuier en partytjie hou. Dis gesond eet terwyl ander mense aan die eettafel weglê aan die soetgoed en ander lekkernye. Om “nee” te sê, is dissipline en volharding. ‘n Boer is weer een wat risiko’s gewoond is. ‘n Boer moet baie keer baie moeilike keuses maak. Gaan dit reën? Indien wel, wanneer? Die oes moet in die grond en die geringste fout kan miljoene rande kos. Sommige jare is daar misoeste en teleurstellings. Dis egter nie kans vir moed opgee nie – nee aanhou en aanhou is die wagwoord. Moet nooit moed opgee nie. Volhard!


26 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page