top of page
  • Writer's pictureHelena Smith

Hoe maak ek tevrede kinders groot in ‘n ontevrede wêreld?

As onderwysers staan ek telkens verstom as ek sien hoeveel kinders met R100-note by die snoepie betaal. Ek is ook verstom om te hoor hoeveel laerskoolkinders slimfone, skootrekenaars en televisiestelle in hul kamers het.


Ons leef in ‘n samelewing waar ‘n verbruikersingesteldheid (“consumerism”) hoogty vier. Ons arme kinders word beïnvloed deur maats wat die nuutste tegnologiese toestelle het en die nuutste modes dra. Hulle voel uit as hulle nie met die maats kan meeding nie. In sommige ouerhuise leer kinders ook by hulle ouers ‘n verbruikersingesteldheid aan. Pappa kry gereeld ‘n nuwe model selfoon of die nuutste model motor. Mamma spog met die jongste modes aan haar lyf en in haar huis. Boetie of sussie hoef maar net hulle vingers te klap, dan kry hulle ook die nuutste tegnologie of die nuutste Adidas of Nike tekkies. Hoe maak ‘n mens dan tevrede kinders groot in wêreld tussen mense met ‘n verbruikersingesteldheid?


In die eerste plek is dit belangrik om te besef dat jou kind se emosionele behoeftes baie groter is as sy/haar fisiese behoeftes. Sorg dus dat jou kind gekoester, geliefd en veilig voel. Skep ‘n warm atmosfeer by die huis, dat dit vir jou kind lekker is om daar te wees.


In die tweede plek is dit belangrik dat daar goeie grense in jou huis is, wat die materiële behoeftes betref. Jou kind moet beslis netjies en goed versorg wees, maar dit is nie nodig dat hy/sy alles kry wat hulle hart begeer sodra hulle daarna vra nie. Onderskei baie mooi tussen behoeftes en begeertes. Ek glo daarna dat kinders na dinge moet uitsien. As jou kind byvoorbeeld ‘n X-box wil hê, sê vir hom dat jy vir hom die helfte van die X-box se prys vir sy verjaarsdag sal gee en dan moet hy vir die res van die bedrag spaar. Gee vir jou kind realistiese sakgeld, eerder ‘n bietjie minder as meer. Kinders moet ook leer dat hulle moet help met sekere huistake om hulle sakgeld te verdien. Jy kan dalk vir jou hoërskoolkind ‘n toelaag gee waarmee hy klere kan koop. As hy net een duur item koop, is dit sy probleem. As jy hom dan op ‘n dag verras met ‘n inkopie-uitstappie, is die vreugde groot.


Die ouers se voorbeeld is natuurlik baie belangrik. As jy, as ouer, oor die algemeen ‘n lewenswyse het van tevrede wees met wat jy het, sien jou kinders dit raak. Moenie die hele tyd met die Vander Merwes van langsaan meeding nie. As jou kind sien dat jy vir jouself hemelse skatte versamel, sal dit hulle ook positief beïnvoed. In Lukas 12: 15 lees ons: Pas op! Moenie gierig wees vir wat jy nie het nie. Ware lewe word nie gemeet aan wat ons besit nie.


Liewe ouers, mag die Here julle baie wysheid gee om jou kinders so op te voed, dat hulle as tevrede volwassenes, wat nie materieel ingestel is nie, die lewe sal ingaan.

40 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page