top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Grense het groot waarde

Daar is al baie boeke geskryf en baie sal sekerlik nog geskryf word oor die waarde van grense in kinders se lewe. Dis vir my baie erg om jongmense en selfs volwassenes te sien wat geen grense in hulle ouerhuis gehad het nie. Dit kan wees dat pa en ma verskil het oor dissipline en reëls. Dit kan selfs gebeur dat pa of ma glad nie in dissipline glo nie. Soms word kinders geld in die hand gestop en kry hulle alles wat hulle hart begeer, en dit in die naam van liefde.


Dis belangrik dat ’n kind vroeg leer hoe die beginsel van saai en maai werk. Gewoonlik werk dit só: Kind vergeet van ’n skooltaak wat môre moet klaar wees en skrik die aand voor die tyd wakker. Ma kla vreeslik, maar klim in die motor om die nodige gom en prentjies te gaan soek. Sý doen op die ou end al die werk en kind kry hoë punte vir die taak. So ’n kind leer nie om verantwoordelik te wees nie. Die kind moet leer om self die gevolge te dra van wat hy saai.


Deur grense leer kinders ook respek vir ander en dat die wêreld nie net om hulle draai nie. Kinders moet leer dat, behalwe dat dit mense seer maak, ongeskiktheid en gemeenheid ook sekere gevolge inhou. Soms is drastiese stappe nodig. ’n Gesonde “nee” van ’n ouer leer kinders dat hulle nie geregtig is op alles in die lewe nie. Dit leer hulle ook om nie slagoffers van hulle omstandighede te word nie. Entitlement, wat aangeleerde gedrag is, word so in die kiem gesmoor.


Ouers moet leer om te onderskei wanneer hulle kinders swaar- of seerkry. Moenie reageer elke keer as jou kind sukkel nie. Wanneer hy iets nuuts aanleer of self iets regkry, kan dit ’n waardevolle leermeester in ’n kind se lewe word. Wanneer jy elke keer vir jou kind intree, maak jy jou kind afhanklik van jou, en so ’n kind loop die gevaar om later in die lewe misbruik te maak en selfs verslaaf te raak aan dinge soos alkohol, kos en dwelms.


Daarom, volg die raad wat opgeteken is in Spreuke 22: 6:


Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.



20 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page