top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Grense bou karakter

Uiteindelik kan ons sê karakter is wie jy werklik is en daarom ook hoe jy optree teenoor mense. Die volgende is belangrik in terme van karakter: Is ’n persoon verantwoordelik? Kan ’n persoon mislukkings hanteer? Het ’n persoon empatie met ander? Kan ’n persoon liefhê?


Die meeste van die mens se probleme is die gevolg van swakhede in hulle karakter. Daarom is dit belangrik dat elke ouer sal besef grense in jou kind se lewe bou jou kind se karakter. Jy is besig om jou kind te help om ’n verantwoordelike volwassene te word.


Kinders word nie gebore met grense nie. Dit moet aangeleer word. Ek het iewers gelees dat ’n klein kindjie iemand is wat hard probeer om ander te beheer en self geen beheer het oor homself nie. Die ouer se rol is dus om die kind aan grense bloot te stel sodat hy beheer kan neem oor homself en kan ophou om ander mense te beheer. Jou kind moet in sinvolle, liefdevolle verhoudings met ander mense kan staan.


Om dag-in en dag-uit agter jou kind aan te loop en hopies klere op te tel; om gedurig te kla oor die deurmekaar kamer en dit dan self op te ruim; om verantwoordelikheid by jou kind weg te neem en sy huiswerk te doen, is alles voorbeelde van ouers wat in gebreke bly om hierdie sake as geleenthede te sien waar ’n kind verantwoordelikheid kan leer. Jy as ouer neem die verantwoordelikheid, nie jou kind nie. Jy as ouer is gemotiveerd, nie jou kind nie. Jy beplan dinge, nie jou kind nie.


Die voorbeelde hierbo is almal geleenthede waar jou kind verantwoordelikheid en selfdissipline kon leer. Spel die negatiewe gevolge vir jou kind uit indien hierdie dinge nie gedoen word nie. Jy is besig om jou kind waardes te leer deur sy karakter te ontwikkel.


In 1 Konings 1: 6 lees jy van 'n geval wat werklik 'n goeie voorbeeld is van 'n volwassene se swak gedrag as gevolg van 'n gebrek aan grense en dissipline in sy kinderjare (een van koning Dawid se seuns). Die gevolge was katastrofies.


Sy vader het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra: “Hoekom maak jy so?” nie.

12 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page