top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Goeie ouerskap in pandemietyd

Goeie en doeltreffende ouerskap is altyd 'n uitdaging, ook in 'n tyd sonder 'n pandemie. Nou is die kat egter in die duiwehok en ouers het baie raad en begeleiding nodig. Hier is 'n paar baie praktiese wenke wat elke dag geleef kan word: hande en voete vir 'n pandemietyd soos nou.


(1) Maak tyd vir goeie kommunikasie

Onthou altyd dat goeie kommunikasie met luister begin. Maak tyd daarvoor. Wees intensioneel daarmee. Jongmense loop met baie opgekropte emosies en baie daarvan is negatief. Hulle ly erge verliese in hierdie tyd en iemand moet luister. Pa en ma, mag dit jy wees asseblief. Indien afwesig - die gevolge is reeds baie lelik.


(2) Maak jou huis 'n lekker plek

Weereens, dis altyd veronderstel om so te wees. Nou is dit belangriker as ooit aangesien daar beperkings op sosiale byeenkomste en partytjies is. Raak kreatief in jou huis en gaan gereeld uit as gesin om net die roetine te breek wat sieldodend kan wees in 'n lang pandemietyd. Organiseer pret en lekker tye SAAM vir jou gesin. Beplan lekker geleenthede sodat almal veilig kan wees en bly in hierdie tyd.


(3) Beperk tegnologie

Elke huis moet in hierdie pandemietyd streng beleid rakende die gebruik van tegnologie hê. Tegnologie neem ons lewens oor en tydens die pandemie gaan tegnologie swak verhoudings net verder verdiep. Kinders word heeltemal te veel en te lank aan skerms blootgestel (selfs nou vir skoolwerk!). Hulle moet gehelp word om daarvan weg te kom. Baie van hulle se brein is reeds ooreis en die negatiewe spanningshormone verhoog en versnel as gevolg van die te veel gebruik van tegnologie en skerms. Te veel jongmense is agter toe kamerdeure besig met skerms en die meeste van die tyd is dit ongekontroleerd. Pa en ma, daar het jy 'n wenresep vir 'n ramp.


(4) Bly verantwoordelik ten opsigte van grense en dissipline

Te veel ouers kry hulle kinders nou so jammer dat ouers toestemming gee dat isolasie-maatreëls geïgnoreer word. Kinders word toegelaat om na plekke te gaan wat ek "Covid broeineste" noem. "My arme kind,..." is die algemene en dwaas redenasie van ouers. Wel, as jou kind aansteek gaan "jou arme kind" langer geïsoleer moet word. Dan kan jy voorwaar praat van jou "arme kind". Onthou net dis jy wat toestemming daartoe gegee het. Verder kan jou kind ander kinders en onderwysers aansteek. Dis hoekom jy super kreatief moet raak in jou gesin - maak jou huis weer 'n lekker plek. Wees baie streng as dit by die virus-maatreëls kom en terselfdertyd uiters liefdevol en sensitief. Ja, daardie kombinasie is moontlik.

7 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page