Jy het verseker al gehoor dat "charity begins at home". Wel, dis net so waar van leierskap. Dit help veel dat almal by die werk jou Meneer of Mevrou en hulle broeke bewe as jy naby hulle kom, terwyl jou huis uit mekaar val. Ja, groot respek vir jou by die werk, maar geen of baie min respek vir jou by die huis. Dis nou werklik: bo blink onder stink. Dis egter baie mense se realiteit vandag.
Lees Josua se voorbeeld in Josua 24 vers 15:
As julle nie bereid is om die Here voluit te dien nie, besluit dan hier en nou wie julle wil dien: die gode wat julle voorouers in Mesopotamië aanbid het of die gode van die Amoriete, in wie se land julle nou bly. Wat my en my gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.
Josua praat hier met die volk - hy is hulle leier. Hy is die een wat na Moses die leier geword het en die volk die beloofde land ingelei het. Hy is dus eintlik besig met sy werk en om sy "werkers" toe te spreek. Wel, duidelik lei hy deur sy voorbeeld. Hy gee hulle die keuse. Ja, hulle kan en moet self kies. Terselfdertyd sê en leef hy 'n sekere voorbeeld na hulle kant. Dalk kan ons hieruit dit baie hard en duidelik sê: "Leadership, not only charity, begins at home."
Dis 'n leier wat navolgenswaardig is. Dis 'n leier wat doen wat hy sê. Dis 'n leier met karakter. Hy leef nie op een manier by die werk en op 'n ander manier by die huis nie.Nee, sy gedrag is elke dag en op elke plek konsekwent.
Mag Josua vir jou en my 'n voorbeeld wees. Dan is daar Dawid wie se een seun op sy suster verlief raak en haar verkrag. Sy broer is so kwaad dat hy die broer laat vermoor (Lees gerus die riller in 2 Samuel 13). Nie 'n baie mooi getuienis van die huis en die gesin van Koning Dawid nie. Ja, leer by Josua hoe om dit te doen en by Dawid hoe om dit nie te doen nie. Gaan leef dit dan konsekwent by die werk.
Comments