top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

God gebruik die swaar tye in jou lewe

God is kwaai en geniet dit om jou te straf, dink baie mense vandag nog. Baie mense glo vandag nog dat God beproewing oor hulle pad bring om hulle te straf vir dinge wat hulle verkeerd gedoen het. Hoeveel keer het ek al die woorde uit iemand se mond gehoor as dit swaar gaan: “Ja, dis seker my verdiende loon omdat ek so ‘n sondaar is.” Of, "Dis seker die Here se straf." Dalk is dit nodig om dit vir ‘n slag uit te spel: Jesus het die straf vir jou sonde aan die kruis gedra. Jesus is in jou plek gestraf. 2 Korintiërs 5: 19 en Romeine 8: 1 beskryf dit baie mooi:


Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.


Daar is dus geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie.


Almal van ons gaan deur moeilike tye. Ja, almal van ons ervaar soms die pyn van seer wonde wat ons toegedien word. Niemand word daarvan gevrywaar nie. Die wêreld waarin ek en jy leef is moeilik en vol sonde, onvolmaakthede, ellende, nood, verwoesting en pyn. Geen groot huis of deftige motor of rykmansklere met die regte etikette vrywaar jou eers daarvan nie. Nee, jy kan wegkruip soos jy wil – jy is in die wêreld en dis hier waar God wil hê jy moet ‘n verskil maak.


Die Bybel sê op verskeie plekke dat ons eintlik moet bly wees oor swaarkry in ons lewe. Dit klink soms belaglik, veral in tye wat dit nie met jou goed gaan nie. Natuurlik voel jy nie so in ‘n moeilike tyd nie – jy kyk net in jou pyn en ellende vas. Weet egter dat God besig is om jou nader aan Hom te trek. Jy is besig om te groei in jou karakter en dis vir God die heel belangrikste. Soms is dit nodig om deur hitte te gaan om gesuiwer te word. Jakobus 1: 2-4 beskryf dit baie mooi:


My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.


Die Here wil hê dat jy jou volle potensiaal moet ontwikkel en gebruik. Dit is nie moontlik as dit net met jou gaan goedgaan nie. Dit is nodig om jou deur krisisse en moeilike tye te laat gaan sodat jy kan leer volhard en daardeur groei in geestelike volwassenheid. Jy kan egter altyd vashou aan die mooiste belofte in Jesaja 43 vers 2:


As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie.



16 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page