• Johan Smith

Geld en besittings kan nie kompenseer vir pa en ma se afwesigheid nie

Almal aanbid iets of iemand. Jy mag dalk nie baie lief wees vir sing nie, maar aanbidding/"worship" is juis veel meer as sing. Dis 'n leefwyse. Aanbidding wys wie of wat is die belangrikste in jou lewe - dus, wie jy aanbid.


Sedert 1994 het die buitelandse markte, ook geldmarkte, vir Suid-Afrikaners oopgegaan. Die woord “offshore” het 'n in-woord geword. In- en uitvoere het begin floreer. Hawens en lughawens is opgegradeer. Baie mense soek egter hulle sekuriteit in besittings, geld, spesifiek buitelandse beleggings, groot bankrekenings en ook in eiendom. Baie mense het begin klou aan besittings en geld om só beheer te behou, want dis een van die uitstaande kenmerke van die mens vandag: ons wil in beheer wees. Ons hou nie van afhanklikheid nie.


Hierdie drang tot beheer lei ongelukkig tot grootskaalse materialisme. Kinders word as gevolg daarvan groot bedrae geld in die hand gestop; dit moet opmaak vir pa wat hard werk. Groot en duur presente moet opmaak vir eensame ure alleen. Hulle kry die heel duurste en beste toerusting. Dit alles wys mos pa en ma het hulle lief.


Pa en ma, jy kan alle boeke oor kinderopvoeding lees; jy sal nie in een vind dat geld en materialisme help om ’n kind emosioneel geborge te laat voel nie. Dit gaan oor jou fisieke teenwoordigheid, jou wys en leef van liefde en omgee vir jou kind. Jou teenwoordigheid, belangstelling en omgee is uiteindelik dit wat jou kind emosioneel veilig laat voel.


Doktor Anthony Wiham sê die volgende waar woorde:


Too much love never spoils children. Children become spoiled when we substitute “presents” for “presence”.


Moenie in die materialisme-gat val nie. Gee tasbare liefde wat geen prys het nie, maar wat ook deur geen geld gekoop kan word nie.


'n Skrifgedeelte wat jou kan help, is Kolossense 3 vers 23:


Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.


4 views0 comments

Recent Posts

See All