top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Gee aandag aan jou kind se liggaamlike ontwikkeling

Die mens is ’n drievoudige wese wat bestaan uit liggaam, siel en gees. Daarom kan jy nie net op sekere aspekte van jou kind se menswees fokus nie. Jou kind se liggaamlike ontwikkeling is baie belangrik - net soos sy emosionele ontwikkeling en geestelike heil.


Dit is baie belangrik dat ouers hulle kinders sal leer om hulle liggaam goed te versorg. Daar is nie 'n kind wat mens as lelik kan afskryf nie. Baie kinders is egter laks as dit kom by hulle fisiese versorging. Die regte liggaamlike versorging is egter baie belangrik vir ’n kind se geluk en selfbeeld. Bad of stort gereeld, tandeborsel, skoon onderklere en klere, 'n lekkerruik-dingetjie in die adolessensie jare........ Dis alles dinge wat ouers 'n kind moet help vestig as 'n leefstyl.


Kinders moet ook gesonde eetgewoontes aanleer. Dit kan molligheid en gewigsprobleme voorkom. Verder is dit belangrik dat kinders leer dat ’n glimlag en vriendelikheid ’n mens baie toegankliker maak as norsheid en onvriendelikheid. Leef met 'n glimlag om die mond trek mense - 'n frons stoot mense weg.


Sport is belangrik vir ’n kind se liggaamlike ontwikkeling. Al blink jou kind eerder uit op akademiese of kultuurgebied, moet hy leer om gesond te leef. Moedig jou kind aan om te stap of skoolsport te doen, al is dit vir die sewende of D-span. Spansport en ander sportdeelname help ’n kind boonop om beter te sosialiseer en om deursettingsvermoë te leer.


Begeleiding oor seks en jou kind se seksuele ontwikkeling en ontwaking moet op die regte manier gedoen word. Jou kind gaan die feite van seks en voortplanting by iemand hoor. By wie? Kies sommer nou. Seksvoorligting is jóú verantwoordelikheid en help dat jou kinders nie hulle ore uitleen vir allerhande vuil seksuele praatjies en prentjies nie. Seksvoorligting op die regte wyse help dat kinders hulle liggaam net meer waardeer en om seks nie as iets vuils te sien nie, maar as iets wat God geskep het vir ’n bepaalde ruimte, naamlik die huwelik.


Mag Joël 1 vers 3 jou hiermee help:


Vertel dit aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel, en dié weer aan húlle nageslag!


5 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page