top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Erfgenaam en deel van die huisgesin van God

As iemand oor erfporsies praat, dink ‘n mens onwillekeurig aan iemand wat dood is. Die verlore seun in Lukas 15 was egter een seun wat nie gewag het dat sy pa moes sterf voordat hy sy erfporsie gevat en geloop het nie. Baie mense word ryk – nie deur harde werk nie, maar as gevolg van groot en skatryk erfporsies wat hulle erf nadat hulle ouers dood is. Jy kry baie ouers wat hulle oor ‘n mik werk en geld wegsit sodat hulle kinders eendag skatryk kan erf as hulle nie meer daar is nie. Dit is hulle manier van sekuriteit daarstel vir hulle kinders. Maar het jy geweet dat jy, as kind van God, van God geërf het. Dit is die wonderlikste sekuriteit wat enige iemand kan hê. Dit is verseker waar volgens Romeine 8: 17:


En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.


Om van God te erf oortref enige aardse erfporsie baie ver in waarde. God maak jou deel van die hemel vir ewig en laat jou deel aan al die seën wat daar in die hemel is. Dit is alles tot jou beskikking as kind van God. Jy het dus status deurdat jy erfgenaam van God is. Onthou ook altyd dat God die Bron van alle goeie dinge is. God is die Skepper God wat hemel en aarde gemaak het. Om van ryk ouers te erf is een ding. Om ‘n erfgenaam van God te wees, oortref egter alles in waarde.


Geen mens is gemaak om alleen te wees nie. God het elkeen van ons ook as ‘n sosiale wese geskape wat interaksie met ander mense nodig het. Daarom leef ons in ‘n tyd waarin daar grootskaalse eensaamheid voorkom en baie mense hartseer en alleen is. Dit is ook een van die grootste oorsake van depressie vandag: eensaamheid en ‘n gevoel dat jy alleen is en dat niemand vir jou omgee en jou liefhet nie. Een van die wonderlike dinge om Jesus te ken, is dat jy deel word van ‘n nuwe familie. Onthou as jy Jesus aanneem, word God jou Vader en Jesus jou oudste broer. Saam met miljoene gelowiges is jy nou deel van die huisgesin van God. Efesiërs 2: 19 stel dit baie mooi:


Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.


In Christus behoort jy dus aan ‘n huisgesin. In Christus het jy dus boeties en sussies en hoef jy nooit weer alleen en eensaam te voel nie. Belangrik egter is om te onthou dat ek en jy ook ‘n verantwoordelikheid het om nuwe boeties en sussies te laat tuis en welkom voel. Die huisgesin van God moet ‘n veilige en warm plek wees – nie koud en ongevoelig nie.

57 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page