Een ding wat ek weet, is dat onderwysers kliphard kan werk. Sommige onderwysers kan net so hard kla, ek inkluis. Dit is so dat onderwysers behalwe klasgee, nog ‘n 1001 ander dinge moet doen. Dan gebruik ons dikwels van ons laaste energie om ons lot te bekla. Die laaste kwartaal trek met ‘n spoed weg. Terwyl ek hier skryf is die besige vierde kwartaal in volle swang. ‘n Kind wil in klastyd vir my ‘n storie kom vertel en ek sê redelik kortaf: “Nie nou nie, Boeta!” Die aand voel ek baie skuldig en wonder of die kind nie dalk iets belangriks vir my wou vertel nie.
Dit is waar dat ons as onderwysers baie administratiewe sleurtakies het wat tyd steel. As jy dan daaraan dink dat God jou geroep het om ‘n verskil in kinders se lewens te maak, voel jy skuldig omdat jy juis jou belangrikste taak afskeep. Ek hoof seker nie vir jou te sê hoe sleg dit deesdae met ons kinders gaan nie. Groot hoeveelhede kinders moet hulp en berading kry by skoolsielkundiges en beraders. Sommige soek net ‘n gewillige oor en liefdevolle aandag by ‘n onderwyser. Toe ek ‘n ruk gelede die volgende vers raaklees het dit my aangegryp:
Klaagliedere 2:19 “Staan op in die middel van die nag, om jou hart soos water voor die Here uit te stort. Steek jou hande uit om te pleit vir jou kinders wat op straat doodgaan van honger.”
In 1994 het die fotojoernalis, Kevin Carter, die Pulitzer-prys gewen vir sy aangrypende foto van die hongersnood in die Soedan. Op die foto is daar ‘n uitgeteerde kindjie, wat besig is om te sterf van die honger. In die agtergrond huiwer daar ‘n aasvoël, reg om toe te slaan. Wat baie hartseer is, is dat toe iemand vir Kevin Carter vra wat van die kindjie geword het, het hy gesê dat hy nie weet nie. Hy het net foto’s geneem. Neem ek en jy ook soms net foto’s van kinders wat sukkel en stap dan verder?
As onderwysers kan ons nie kinders se probleme oplos nie maar ons kan kinders verwys vir hulp. Ons kan ‘n liefdevolle oor bied om te luister. Dan kan ons ook moed inpraat en trane help afdroog. Baie onderwysers sê hulle kry nie kans daarvoor nie. Hierdie is egter ons roeping en dus moet ons tyd maak daarvoor. Wat so ongelooflik is hiervan, is dat hierdie betrokkenheid by kinders, jou baie meer vervulling gee as om ‘n briljante vraestel op te stel.
So kollegas, kom ons hou op kla oor al die admin. Handel dit flink en vinnig af – ons as onnies kan dit mos doen. Kom ons sit die kameras neer, maak weer tyd vir die kinders en doen waarvoor jy geroep is.
Comentários