Daar is soveel praktiese probleme met die verdienste-teorie. Kom ek noem ‘n paar: Wie bepaal wat is goed? Wie bepaal wie of wat is goed genoeg? Die term “goed” verskil van kultuur tot kultuur. In baie Oosterse lande word vroue nog vandag geminag en behandel asof hulle min tot geen waarde het. Volgens hulle kultuur is dit goed? Elke land het sy eie tradisies en gewoontes wat verskil van die van ‘n ander land. Wie is nou reg? Selfs kerke verskil oor sekere dinge en pas sekere morele riglyne verskillend toe. Wie is nou reg? Dit raak ‘n baie moeilike en ingewikkelde debat as “goed” wees die norm word om hemel toe te kan gaan. Dis ‘n yslike probleem om ‘n sekere slaagsyfer te moet behaal veral as dit uiteindelik bepaal waar jy die ewigheid gaan deurbring. Gelukkig hang jou geloofsekerheid nie van sulke airy fairy stuff af nie. Nee, God is te lief vir jou om so met jou om te gaan.
Baie jare gelede was die doodstraf nog ‘n werklikheid in ons land. Mense is deur die hof ter dood veroordeel en dan gehang gewoonlik as gevolg van moord wat gepleeg is of wrede verkragtings. Een so ‘n bloedjong man se naam was Johannes Wessels. Hy het ‘n vreeslike wrede moord gepleeg in die Oos-Vrystaat en na lang hofsake is die jong seun, toe negentien jaar oud, ter dood veroordeel. Ek onthou nog sy foto’s in die koerant. Die storie het my aan my hart gegryp omdat hy so jonk was. Elke dag het ek die hofdrama in die koerante gevolg. Dit was ‘n baie hartseer gebeurtenis met ‘n hartseer einde. Maar, jare nadat hy dood is, het iemand vir my ‘n brief van die jong man in sy eie handskrif gegee. Dis vandag nog een van my kosbaarste besittings. Hy skryf onder andere daarin:
Terwyl ek hier in die dodeselle te Pretoria sit, het daar een begeerte by my opgekom wat bo ander begeertes uitstyg: ek wil ‘n verlore sondaar na Christus lei!……Een Sondagmiddag, omtrent ‘n maand na die moord….Ek het op my knieë langs die bed afgesak en tussen die snikke deur het ek my sondes, groot en klein, aan God begin bely. Ek het vir God alles vertel wat ek gesondig het en Hom aanhoudend om vergifnis gesmeek…Nadat ek klaar was het ek ‘n gevoel ondervind wat my doodstil laat word het. Dit was iets helig, rein en lieflik. Van daardie oomblik af, weet ek, het die Gees van God in my kom woon. Ek was agtien jaar oud…’n paar maande later is ek die doodstraf opgelê.
Hierdie rebelse jongman wat moord gepleeg het, het daar in die tronk voor Jesus op sy knieë neergeval en Jesus aangeneem as sy Saligmaker en Verlosser. Hierdie jong man het die oggend van sy dood vol van die vreugde en vrede van die Here na die galg gestap. Hy het verseker geweet dat hy oppad is om die hemel te betree.
Dit is wat genade doen! En dit is wat verdienste glad nie kan doen nie.
Comments