top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

As die kind die ouer word

Ek word tydens die pandemietyd gekonfronteer met skokkende ouerskap. Hier is 'n paar dinge wat ek die laaste paar weke oor gevra is, gesien het of moes na geluister het. En net terloops, ek is baie deeglik bewus daarvan dat baie hiervan al voor die pandemie 'n realiteit en algemene verskynsel is.


'n Kind onttrek in die kamer, is die hele dag besig met tegnologie en skerms, los sy sport geheel en al. Punt. Pa en ma is te bang om sy "privaatheid" in te dring en ferm op te tree ten opsigte van die toe deur, die hopeloos te veel tegnologie en die totale passiwiteit. Dis rooi ligte vir toekomstige depressie (indien dit nie al reeds 'n realiteit is nie).


Ouers kry hulle kinders (onder 18) so jammer tydens die pandemie dat hulle partytjies reël en sorg vir alkohol. Ja, 'n landswet word oortree met pa en ma wat die alkohol koop. Nog 'n landswet word oortree omdat daar by die partytjies nie enige vorm van sosiale afstand is nie. Wat 'n voorbeeld vir ons kinders! Nogals deel van 'n wenresep om klein godjies groot te maak.


Pa en ma gee toestemming dat hulle tieners partytjies bywoon waar daar geen maskers of ander verantwoordelike maatreëls ten opsigte van Covid bestaan nie. Weereens, "my kind kry so swaar". Aan landswette steur hulle hulle nie. En as jou kind dieselfde gesindheid eendag gaan leef.......? Ek sidder!


Die nuus was vol van smekende skoolhoofde wat by onverantwoordelike ouers moet pleit om by die reëls van die pandemie te hou. Die skoolhoofde pleit namens ander kinders wat baie vatbaar mag wees vir die siekte en onderwysers wat op groot skaal positief toets en wie se lewens in gevaar is. Hulle pleit sodat hulle skole kan oop bly, want isolasie is goed vir geen kind of mens nie. Dan is daar waaragtig ouers wat die hoofde opponeer en kritiseer. Die vlakke van narsisme en arrogansie is eenvoudig skokkend. Onthou pa en ma, moenie eendag vrae vra as jou kind uitdraai as arrogant of 'n narsis nie.


Die "klein godjie"-sindroom word teen spoed aangehelp wanneer ouers bang raak vir kinders, wanneer kinders die ouers word........... En ja, dis lankal in baie huise die geval. Die krake word nou net deur die pandemie baie duideliker sigbaar.


Pa en ma, jy is die Pa en Ma - dis jou unieke rol aan jou deur God gegee. Neem op jou verantwoordelikheid. Hou by verantwoordelike grense en dissipline. Dis deel van liefhê. Leer jou kind om swaar en moeilik te hanteer - daar wag nog baie daarvan post-Covid. Bo alles, vra God vir wysheid elke dag - kinders groot maak was nog nooit maklik nie, maar sal altyd een van jou grootste verantwoordelikhede wees en bly. Soos Andy Stanley sê:


Your greatest contribution may not be SOMETHING you do, but SOMEONE you raise.


23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page