top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

2021: Mooiste wense

Ek begin die nuusbrief graag met die woorde van die bekende ABBA-lied "Happy New Year":


Happy new year Happy new year May we all have a vision now and then Of a world where every neighbour is a friend Happy new year Happy new year May we all have our hopes, our will to try If we don't we might as well lay down and die You and I


Ek hoop jy droom oor 2021. Mense wat droom, lewe en het hoop. Mense wat droom het 'n verwagting en gee hoop. Ek vertrou dat 2020 nie jou wiele so pap gemaak het dat jy ophou droom het nie. Ek vertrou dat 2020 se terugslae en uitdagings jou nie ontmagtig en hooploos gelaat het nie. Nee, leer by Paulus: ten spyte van 'n tronk het hy altyd voluit geleef en sy heel beste gegee. Leer by Josef: 'n put en 'n tronk het hom nie ontmagtig nie. Nee, hulle beide het aanhou leef en aanhou droom.


Sien vrede, vreugde en hoop in jou Vader se Koninkryk hang nie af van jou omstandighede nie. Hy gee vrede, vreugde en hoop ten spyte van omstandighede. Mag jy eerder dit geleer het uit 2020 as om boedel oor te gee. Jesus, Immanuel wat ons Kerstyd oor gesels het, was en is elke tree van jou lewenswedloop met jou. Hy laat jou nooit alleen nie. Hy is nooit te ver nie. Hy is altyd daar om lief te hê, om te gee, te help en aan te moedig.


Daarom is ons wens van VitaAmp se kant vir jou in 2021 nie die vrywaring van probleme en uitdagings nie. Dit is ook nie net 'n gelyk pad sonder opdraandes en kronkels in die pad nie. Nee, dit is juis: Mag jy ervaar dat Jesus elke tree van die uitdagende pad saam met jou stap. Mag jy ervaar hoe Hy jou aanmoedig teen die steiltes uit.


Hy is met jou! Hy is by jou! Daarom volhard en vertrou. Hardloop jou lewenswedloop elke dag met jou oog op Hom. Hy sal jou nooit verlaat en nooit in die steek laat nie.

5 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page