top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Koop die tyd uit as gesin

Job sê vir ons in Job 7 en Job 9 dat tyd vlieg - dit gaan vinnig verby. Moses herinner ons in Psalm 90 dat daar 'n eindstreep is en dat ons na ons einde vlieg. Ja, jou tyd op aarde is dalk heelwat korter as wat jy dink.

Gejaagdheid en die gebrek aan tyd ’n groot probleem vir ouers en ’n suksesvolle gesinslewe is. Daarom is dit belangrik dat gesinne tyd konstruktief sal benut. Die televisie is hier weereens die grootste gevaar (of die hellevisie soos sommige mense daarna verwys). Elke huis moet beheer en dissipline hê wat televisie aanbetref en dis grotendeels ouers se verantwoordelikheid. Baie ouers het al van hulle televisie ontslae geraak as gevolg van die inbreuk wat dit maak op hulle geestelike en gesinslewe.

Dit is belangrik dat gesinne spesiale geleenthede moet hê wat eie aan hulle is. Ek het by ouerskapseminare talle sulke voorbeelde teëgekom. Hier is ’n paar voorbeelde: vier Oukersaand en Paasfees op ’n unieke manier; eet pizza piekniekstyl in die woonkamer; hou varkaande waar daar net met die hande geëet word en formele aande waar daar formeel aangetrek word vir aandete. Dis dié dinge wat kinders altyd sal onthou.

Dit is ook belangrik dat kinders sover moontlik deelneem aan georganiseerde sportgeleenthede. Dit kos nie noodwendig baie geld nie en hou ’n kind konstruktief besig. Kinders moet ook gemotiveer word om by hulle kerk en skool se geestelike aksies in te skakel. Daar kan hulle die regte vriende ontmoet en ook geestelik opgebou word. Laat jou kind toe om op geestelike kampe en uitreike te gaan en prys die Here vir die opbrengs op jou belegging in jou kind se geestelike lewe. Min ouers belê geestelik in hulle kinders.

Min kinders beoefen nog stokperdjies. Niemand versamel juis meer seëls, handtekeninge van sportsterre of plakkers nie. Probeer kreatief dink om jou kind te help om belangstelling in ’n stokperdjie te ontwikkel. Doen dit saam met jou kind en bou terselfdertyd só aan julle verhouding.

'n Belangrike Skrifgedeelte wat jou aanmoedig om die tyd uit te koop en vrugbaar te gebruik, is Spreuke 20 vers 13:

As jy nie wil arm word nie, moenie lief wees vir slaap nie; staan vroeg op, en jy sal oorgenoeg hê om te eet.




43 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page