top of page
  • Writer's pictureJohan Smith

Kersfees elke dag

Soos dit Oktober raak, begin die winkels met hulle Kersversierings, want Kersfees lê spreekwoordelik om die draai. Soos November nader kom begin die kerke beplan aan Kerssangdienste en gereeld word Kersliedere gesing. Dan kom Januarie en Februarie en Maart......... en Kersfees is vergete. Ons wag nou weer vir die winkels om ons in Oktober te herinner aan Kersdag.


Op Kersdag gedenk ons die geboorte van die Saligmaker en Redder, Jesus Christus. God het mens geword - Jesus kom uit die hemel en word mens. Die hemel tref die aarde! Dis baie spesiaal en baie groot. Ons seën mekaar met geskenke met die gedagte om aan die grootste Geskenk ooit te dink. Die groot vraag bly egter: Is dit net vir een dag van die jaar bedoel? Het Jesus se koms te make met net een dag van die jaar?


Met Jesus wat aarde toe kom om 'n kruispad te stap ter wille van elke mens, word hy Immanuel - dit is God met ons, God met jou en God met my. Dit is bedoel vir elke oomblik van elke dag. Dink aan die afgelope jaar wat baie skeef gedraai het en een groot uitdaging en onsekerheid vir ons almal geword het. Waar was God? "Watching us from a distance"? O nee! Hy was met jou. Hy was saam met jou. Hy was langs jou en in jou. Dis die boodskap van Kersfees. Dis die boodskap vir elke dag van die jaar.


Juis wanneer jou omstandighede jou moeg maak, uitput en selfs oorweldig, kan en moet jy juis vashou aan die boodskap van Kersfees: Immanuel het gekom en Hy is altyd by jou. Jou omstandighede mag jou anders laat dink of voel, maar jou omstandighede kan gelukkig nie die werklikheid van Immanuel uitwis of laat wegraak nie.


Daarom weet en hou vas daaraan: Kersfees is vir elke dag van die jaar. Die goeie en blye tyding is ook waar in jou swaarste swaar, jou seerste seer en jou slegste sleg. Roep dit uit: Immanuel - dis die boodskap van Kersfees.

6 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page