Wat ‘n jaar is dit nie waardeur ons almal nog worstel nie. Ek dink nie enige iemand van ons kan oor die jaar praat as “normaal” of dat ons dinge soos voorheen meer kan doen nie. En tog praat en hunker die meeste van ons na begrippe soos “As dinge net weer normaal kan wees” of “As alles net weer kan normaliseer”. Die meeste van ons moes aanpas en leer om van die huis af te werk en aan te pas met vergaderings wat elektronies met Zoom, Teams of Google Meet plaasvind. Iets wat ons almal geweet het eendag dalk sal gebeur, maar net nie gedink dat dit so vining op ons afgeforseer gaan word nie. Die sogenaamde “nuwe normaal!”
Dit het my so laat dink aan al die modelle en leierskapboeke wat ons het en wat ons almal al vir jare in die werksplek probeer toepas. Selfs van die nuwer navorsing wat op persoonlikhede en die enneagram fokus. Tog moes ons vanjaar sien dat ons dalk moet begin terugkeer na die “basics”. Van ons was geweldig bevoorreg om met ons werk te kon aangaan. Meeste van ons het harder as ooit tevore gewerk. Ons wou seker maak die pap val nie op die grond nie en ons doen alles in ons vermoë om ons werk te behou. Daarmee saam moes ons leer om telefonies of virtueel te kommunikeer. Vir die eerste keer was man en vrou saam by die huis om te werk en die meeste ma’s moes tussendeur ook die kinders help met skoolwerk of te kyk dat hulle dit elektronies kan bybring. Dit het ‘n ongelooflike nuwe “dinamika” of “werkswyse” in die huisomgewing gebring. Iets wat ons nog nooit vantevore beleef is nie. Dit laat my met die eerste belewenis wat ek by die meeste mense gehoor het: ek mis my kollegas, ek mis my vriende, ek mis my maats! Ons het die interaksie met mense gemis. Verhoudings het skielik vir ons weer baie meer belangrik geword. Iets wat ons as vansselfsprekend aanvaar het, het nou amper ‘n noodsaaklikheid geword. Selfs vir die van ons wat introverte is en op ons eie kan klaarkom, het ook begin verlang na die interaksie met mense. Alhoewel ons mekaar virtueel gesien het, was dit maar net nie dieselfde nie. Ons het onlangs moeite gedoen om ‘n jaareindfunksie vir die werk te hou. Dit was my opmerklik om te sien hoe mense skielik meer verdraagsaam met mekaar was en mekaar as mense geniet het. In sommige gevalle selfs “issues” van voorheen uitgesorteer het. Ek het op ‘n stadium gedink: “Dit was dalk als die moeite werd”
‘n Ander aspek wat ons moes leer, is om mense meer te vertrou. Ekself moes daarmee vrede maak dat ek nie mense kon sien nie en kyk of hulle die werk doen nie. Ek moes berus daarby dat hulle goeie opleiding gekry het, ons goeie mense het, hulle lojaal is en die maatskappy se belange op die hart dra. Hulle werk hang immers daarvan af. Alhoewel die hupmiddele en elektroniese toegang baie belangrik is, het die slagspreuk weer duidelik na vore gekom: ‘n maatskappy se beste bate is sy personeel. Ek dink die meeste van ons het ook in die tyd ‘n baie goeie idee gekry wat die kwaliteit van die personeel is. Die meeste van die personeel het baie goed gefunksioneer met die nuwe “vryheid” wat hulle het en dat hulle vertrou is om in die tyd van die huis af te kon werk.
Die laaste belangrike les wat ek tydens die tyd geleer het, is dat dat mense partykeer net “grace” met mekaar moet hê. Dit was en in seker gevalle is nog steeds ‘n baie moeilike tyd. Niemand het geweet wat voorlê nie. Daar was en is steeds baie onsekerheid. Mense was vagevang in huise. Almal moes by die huis bly. Skole was toe. Almal het hulle bes probeer doen met die feite tot hulle beskikking. Alhoewel die werkstake moes aangaan, is die laaste ding wat mense nodig gehad het, werkgewers wat onbillike eise of verwagtinge gestel het. Mense gaan foute maak in die tyd. Meeste van die foute is nie intensioneel nie, maar eerder al die dinge wat gelyktydig gebeur het en bestuur moes word. Ons het almal baie emosionele golwe gery. Daarbenewens was daar baie ander emosies in die huis wat ook bestuur moes word. Tydens die jaareindfunksie, wat ek voorheen na verwys het, het dit ook baie duidelik uitgekom dat dit een van se grootste vrese by mense was wat gebeur as hulle foute maak? Hoe sal hulle hanteer word? Gaan hulle weet waarmee ek worstel? Ek het gedurende die harde grendeltyd een maal ‘ n week met elke personeellid probeer praat en net probeer luister wat elkeen se uitdagings is, waarmee die werk kan help, net dankie te sê vir die harde werk en gerusstelling te bied. Hopelik het dit ‘n bietjie “grace” gewys en mense bietjie meer gerustelling gebied in ‘n anders harde werksomgewing.
Alhoewel hierdie dinge nie al is wat belangrik is nie, was dit maar net iets kleins en eenvoudig ‘n abnomale of dalk “nuwe” normale tyd. Ek is ‘n geweldige voorstaander van byvoorbeeld Andy Stanley en Graig Groeschel se leierskapboeke en podcasts. Maar in die tyd het ek net beleef dat ‘n meer eenvoudige, basiese benadering sonder enige ingewikkelde modelle, dalk net die regte resep is.
Comments