info@VitaAmp.org | 082 456 8133

Blog

Ouerskap vandag: ‘n nuwe toewyding

Ek het so ‘n tydjie terug ‘n ouerskapaand by ‘n skool aangebied en begin met die woorde: “As jy vandag ‘n uitdaging soek, kry kinders.” Daar is heerlik gelag oor so ‘n intro, maar almal weet dis waar. Dis die hoofrede hoekom die meeste mense die aand bygewoon het: gesonde, gelukkige gesinne in 2016 is ‘n heerlike uitdaging. Soveel ouers sit hande in die hare wat ouerskap en gesonde gesinne aanbetref. Gesinne val uitmekaar en gereelde oorloggies woed in baie gesinne.

Dit laat my terugdink aan jare gelede toe ‘n boek verskyn het met die titel “Ouerskap is nie kinderspeletjies nie.” Baie gepas vir daardie tyd, en verseker meer gepas vir vandag. Die boek is geskryf in ‘n tyd lank voor die media se invloed so groot was en die ontwikkeling van tegnologie so gevorderd geword het. Vandag is dit twee van die grootste uitdagings waarmee jongmense en hulle ouers te doen kry.

Dis ver van al wat verander het. Daar was ‘n tyd wat “Vigs” ’n woord was wat nie bestaan het nie. Daar was ‘n tyd, glo dit as jy wil, wat daar geen internet en daarom geen “google”en gee e-posse was nie. Daar was ‘n tyd wat “Die Skatkis”en “Kennis” gewilde naslaanbronne was. Daar was ‘n tyd wat gesinne nog inryteater toe gegaan het en die “roadhouse” gereeld besoek het. Daar was tye van toktokkie speel en geen televisie in Suid-Afrika. Daar was ‘n tyd wat huwelike op baie klein skaal uitmekaar geval het en die meeste ouers nog gelukkig getroud was, of ten minste bereid was om aan hulle sukkelende huwelike te werk.

Ja, daar was ‘n tyd………

Dis egter tyd om op te hou in die verlede leef. Dis nou die tyd om die spreekwoordelike bul by die horings te pak en dinge in gesinne te maak werk. Dis nodig dat ouers opnuut hulle verantwoordelikheid teenoor hulle huweliksmaats en hulle kinders besef. Saam kan ons dit maak werk. Gemeenskappe val uitmekaar as gevolg van gesinne wat uitmekaar val. Dorpe, stede en lande gaan agteruit as gevolg van stukkende gesinne. Die herstel, uiteraard, gaan ook daar moet gebeur of nie gebeur nie.

Dis nou die tyd vir nuwe toewyding teenoor mekaar. Dis nou die tyd om te sê tot hiertoe en nie verder nie. Neem eienaarskap vir jou kinders en gesin. Maak jou gesin weer die prioriteit wat dit veronderstel is om te wees. Besef opnuut dat ouer-kindverhouding veronderstel is om ‘n stuk hemel op aarde te wees en nie die hel self nie. Dis veronderstel om die oase in die woestyn te wees en nie die skroeiende son nie!

God self staan saam met jou. Hy, die volmaakte hemelse Pa, wil hê dat daar herstel in jou gesin moet gebeur. Hy is die Een wat die eenheid in jou gesin die hoogste ag. Hy is die Een wat die heel graagste wil hê dat jy iets van die hemel in jou gesin sal ervaar en beleef.

Praat jou hart uit teenoor Hom. Hy verstaan. Hy is self ‘n Vader. Vertrou Hom vir ‘n mooi pad vorentoe. Wy jouself opnuut toe aan Hom en ook aan jou gesin. Hy sal help dat jy werklik kan glo: “Hier kom iets baie mooi.”